Glaskas – Afrifiksie se Skryfkompetisie

Laas bygewerk:  14 Junie 2017

Glaskas 2017: Afrifiksie se kompetisie vir die skryf van WF+F Die volgende kompetisie van Afrifiksie is in sig, en ons by Afrifiksie is baie opgewonde dat die kompetisie verder uitgebrei gaan word.

Buiten vir die gewone kategorieë vir jeug en volwasse inskrywings in onderskeidelik wetenskapfiksie en fantasie, gaan ons ook inskrywings neem vir ‘n gedig in enige van hierdie vertakkings.  Die idee van ‘n gedig mag dalk vreemd voorkom, maar dit is relatief geslaagd in ander tale, so ons het besluit om dit te evalueer.  Indien dit ondersteuning ontvang, sal ons dit oorweeg om dit in volgende kompetisies te laat voortbestaan.

‘n Verdere uitbreiding van die skryfkompetisie sal die vorm aanneem van volgerfiksie – spesifiek onder skoliere.  Volgerfiksie is ‘n verhaal waarin een of meer van die karakters, of die agtergrondgebeure, geneem word uit ‘n gewilde verhaal soos ‘n boek, televisiereeks of ‘n rolprent, bv. Harry Potter of Star Wars.  Hierdie vorm van fiksie blyk gewild te wees onder veral tieners, en weereens wil ons dit op die proef stel.

Danksy ‘n skenking, kan ons aankondig dat ons ook pryse in 2017 gaan toeken aan die onderskeie kategoriewennes, as volg:

Volwasse WF        R1,000 (kortverhaal)          Volwasse F         R1,000 (kortverhaal) Jeug WF               R500    (kortverhaal)           Jeug F                 R500 (kortverhaal) Gedig                    R500      (WF of F)             Volgerfiksie           R500      (WF of F)

Twee spesiale pryse van R1,000 elk kan ook toegeken word. Die eerste aan die beste skoolgaande skrywer of skrywer jonger as 21 jaar in enige van die kategorieë.  Die tweede vir die beste gebruik van Afrikaans – ook in enige van die kategorieë.  Spesifiek vir die vernuftige gebruik van goeie Afrikaanse woorde en terminologie, idiomatiese gebruik van die taal, ens. – dit alles sonder om outyds of gedwonge oor te kom. Natuurlik dog eg Afrikaans…

Om die las aan die kant van Afrifiksie binne redelike perke te hou, word geskrewe inskrywings beperk tot ‘n maksimum van twee inskrywings per persoon.  Dít is genoodsaak deur die omvang wat hierdie kompetisie bereik het – maak dus seker dat jy slegs jou heel beste skeppings inskryf.

Die sluitingsdatum vir die 2017 Afrifiksie WF+F Skeppingskompetisie is 31 Julie 2017, en die wenner sal op 15 Desember 2017 bekend gemaak word op die Afrifiksie webwerf. Wenners sal egter telefonies of per vonkpos in kennis gestel word.

Baie sterkte aan al die deelnemers – ons by Afrifiksie kan nie wag nie, en wens elke deelnemer baie sterkte toe…

Bepalings en Voorwaardes (reëls).

7 thoughts on “Glaskas – Afrifiksie se Skryfkompetisie

  1. Dis kommerwekkend om te sien hoe verskeie as ” verskye” geskryf word wanneer `n skryfkompetisie geadverteer word. Verander dit asb.

    • Ekskuus Maritsa – dankie, vir die regstelling…

  2. Ek sien nogals uit daarna om weer aan die kompetisie deel te neem volgende jaar.

Comments are closed.