TREIN NA VREDE – Malinda Thompson

TREIN NA VREDE – 2010 © Malinda Thompson

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 202 woorde)

 

Op ’n besige Sondag-oggend beweeg mense uitdrukkingloos by mekaar verby op ’n moltreinstasie in Amsterdam.

’n Lang, ligtekop man staan nikssiende voor hom en uitstaar. Die meisie aan sy sy, ’n fraai blondekop met blou oë, loer beurtelings na hom en die inligtingsbord.

“Ons trein arriveer oor twee minute en 40 sekondes,” probeer sy ’n geselsie aanknoop.

Hy kyk vinnig na haar en knik net.

Dadelik flits die rooi ligte om die aankomende trein aan te kondig. Die twee ongelukkige jongmense stap by die oop deure in sonder om na mekaar te kyk of  enigiets van hul omgewing in te neem.

Sy gaan sit op een van die blou banke.

“Jy mag maar langs my sit, hier is hope plek,” wys sy na die oop sitplekke langs haar toe hy bly staan nadat sy gaan sit het.

Hy sug weer eens swaar en gaan sit sonder om na haar te kyk.

Sy kyk na hom, kyk om haar rond, kyk weer na hom en kyk dan rond, draai haar lyf sodat sy behoorlik na links en regs kan kyk.

“Die trein is besonder leeg. Ek kan niemand anders sien nie,” sê sy terwyl sy haar strek om so ver moontlik vorentoe te leun.

Dit lyk asof die man se groen oë vir die eerste lewe kry en hy staan nukkerig op om ook weerskante toe af in die paadjies te kyk en sien dan weliswaar dat daar niemand anders in die trein is nie.

“Is ons op die verkeerde trein? Jy het gesê dat die trein oor twee minute sou kom en dit was dadelik daar. Het jy gekyk of ons op die regte trein is?” vra hy beskuldigend aan die meisie wat senuagtig na hom kyk.

“Wel, ons trein was veronderstel om die eerste te wees…” voltooi sy haar sin onseker.

“Veronderstel, veronderstel!! Feite, Dana, feite. Maak jou ogies oop, alles is altyd veronderstel, ek dink so, ek glo so… so laat jy alles deur ons vingers glip,” skree hy behoorlik op haar terwyl hy sy arms opgooi.

Sy harde woorde laat haar nog meer ineenkrimp.

“Kom net by,” snou hy haar toe terwyl hy begin afstap in die gange.

Dana bly sit op die bank. Sy het skielik ’n besluit geneem. Is dit die man met wie sy haar lewe wil slyt? Is dit die man wat haar deur dik en dun moet bystaan. Is hy ooit lief vir haar? Sy besef meteens dat hy nie vir haar kan lief wees as hy so aangaan nie. Hy is vanaf laas naweek soos ’n brullende leeu oor ’n besigheidstransaksie wat sy laat verongeluk het. Sy is die oorsaak dat hy duisende Euro’s verloor het, deur ’n baie dom fout van haar kant. Sy kan dit egter nie uitwis nie. Sy het verstaan dat hy kwaad was, sy het gesê sy is jammer, meer kan sy nie doen nie. Sy het hom tyd op sy eie gegee, hom vanoggend saamgenooi kerk toe, gehoop sy bui het intussen gesak, maar hy is nog net so woedend soos laas Vrydag. Wat probeer sy nog?

“Dis al langer as vyftien minute en ons het nog nie gestop nie. Geen rit is langer as tien minute nie. Wat se trein is dit hierdie?” bulder hy voort terwyl hy orals soek vir ’n naam of enigiets wat lig kan werp op hierdie geheimsinnige onderwerp.

Dana bly sit rustig op die bank sonder om iets te sê.

“Perfek! Perfek!” roep hy ongeduldig uit toe hy sy selfoon uithaal en sien dat hulle geen opvangs het nie.

Hy begin hamer teen die kante van die moltrein.

“Ons weet altwee ek is ’n mislukking, Hans. As jy so wonderlik is, hoekom het jy nie gekyk of ons op die regte trein klim nie. O, ek vergeet, jy is ’n baas en mense doen dinge vir jou. En meestal doen hulle dit nie na jou sin nie, wat goed is, want dan kan jy uiting gee aan jou woede en jou uitleef in jou prima donna vertoninkies.”

Sy kop ruk op en hy kyk haar verstom aan.

’n Wilde woordewisseling volg waarin beskuldigings heen en weer geslinger word. Wanneer alle vuur uit beide geblus is, vryf Hans oor sy oë: “Gaan ons ooit weer hier uitkom? Dis al langer as ’n uur?”

“Ek het nooit geweet ek is so pateties nie,” sê Dana terwyl sy peinsend na hom staar.

“En ek het nooit geweet ek is so ’n bullebak nie,” sê Hans terwyl hy weer eens opstaan en by die venster na die wand van die ondergrondse tonnel kyk.

Hans gaan neem oorkant Dana plaas en weer eens volg ’n lang gesprek waar hulle oor mekaar se uiteenlopende karakters praat. Hulle sien hulself vir die eerste keer deur ander se oë. Hierdie keer gesels hulle in rustige stemme en glimlag selfs soms.

“Toe Hans, hardloop af in die gang en slaan die deur agter jou toe!” spot Dana op ’n stadium.

“As ek al lankal stilgesit het en na jou geluister het, het ek dalk al lankal geweet hoe ek werklik is. En dan kon ek jou ook vertel hoe jy werklik is. Dit was net altyd vir my tydmors, nou besef ek hoe belangrik dit is om met jou maat, wat jy liefhet, te praat.”

“Ek en jy is verskillend, jy kan nie van my verwag om soos jy te wees nie, flink en vinnig en berekend. En jy kan tot tien tel voor jy in woede uitbars, Hans.”

Hy knik: “Dit weet ek nou. Hierdie is die langste gesprek wat ek al ooit met iemand gehad het. Ek besef nou hoe vlak ek nog altyd geleef het.”

“En ek besef dat ek minder pateties en verstrooid moet wees. Dis iets waaraan ’n mens kan werk. Ek dink luiheid het baie daarmee te doen,” glimlag Dana terwyl sy haar hand na Hans uitsteek en hy gewillig opstaan en by haar kom sit.

“Ek begin die rit geniet, Hans.”

Haar woorde bring hom na die werklikheid terug. Net voordat hy weer paniekerig kan raak, verminder die trein spoed en kom die stasie in sig.

“Ek sal hierdie gesprek nooit vergeet nie en ek belowe jou, ons gaan dikwels so gesels. En as daar weer ’n krisis gebeur, gaan ons dit uitgesels. Ek gaan sukkel, maar jy gaan my help, met baie geduld,” hy druk haar styf teen hom vas terwyl hulle opstaan en deur toe beweeg.

“En ek belowe om meer opgeskerp te wees. En jy moet my ook help, ook met baie geduld. Ons gaan ’n afspraak maak om ten minste een maal ’n maand so te gesels – by die huis,” kom dit dankbaar van haar terwyl haar oë sê: net nie weer op hierdie spooktrein nie.

Hulle stap uit toe die deure outomaties oopskuif en sy kyk vinnig terug na die inligtingsbord, hulle trein arriveer oor een minuut en veertig sekondes.

Wanneer sy terugdraai, is sy net betyds om ’n jong meisie ’n rolstoel by die oop deure te sien instoot terwyl niemand anders die trein blyk te sien nie.

Sy hoor die ou vrou in die rolstoel skel en kla. Sy sien die desperate uitdrukking in die jong meisie se oë.

Dana glimlag, sy weet immers wat wag…

1 thought on “TREIN NA VREDE – Malinda Thompson

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui