Toe Hulle gekom het – Hannu Lahti

Afrifiksie wil sy dank en waardering uitspreek teenoor mnr. Lahti, wat ‘n burger is van Finland, en homself Afrikaans geleer het, en sy eerste Afrikaanse WF verhaal met ons deel. Mag sy liefde vir die Afrikaanse wetenskapfiksie genre in die toekoms groei, sodat ons meer van hom hier op Afrifiksie kan lees. Mag sy voorbeeld ander persone uit Europa, wat net so lief is vir die Afrikaanse taal soos ons hulle wetenskapfiksie of fantasie verhale met ons kom deel.

Die Staatspolisie se annale in die jaar 2166: Die Groot Wanorde geskryf deur luitenant Johannes Mäkimaa.

16-04-2169

Die begin van Die Groot Wanorde is nog steeds min of meer onbekend. Ons het net oorblyfsels van dokumente wat bewys dat net enkele persone se optrede die hele wanorde veroorsaak het. Een van die belangrikste dokumente is die dagboek van ‘n onbekende persoon. Die skrywer het ‘n tradisionele ou-styl e-boek gebruik en dit het die data in die masjien bewaar wat die bewaring van dié dokument moontlik gemaak het. Die dagboek gee ‘n fyn beskrywing van wat sommige mense in daardie tyd ervaar het. Die dagboek word hieronder woordeliks weergegee:

26 April 2157

Liewe dagboek, ek weet dis ’n bietjie eienaardig dat ’n dertienjarige seun ’n dagboek in ‘n e-boek aanhou. Ek dink die wêreld is tog eienaardiger as dit wat ek hier sal beskryf. Mense sê dat ek ‘n bietjie vreemd is, dalk een of ander siekte het. Hulle sê ek ly aan Asperger sindroom wat net soos outisme is, maar net nie so erg nie. Ek stem nie saam met hulle nie, want ek voel heeltemal gesond. Net omdat ek nie al die amptelike waardes aanvaar nie, beteken tog nie dat ek siek is nie.

10 Mei 2157

My onderwyseres het my weer gestraf. Gedurende ‘n les het ons oor die Interplanetêre beskawing gesels en ek het gesê dat die tyd voor die ruimtewesens se aankoms ook sy voordele gehad het. Die onderwyseres het skielik baie kwaad geword en gesê ek het kriminele gedagtes. Sy het gesê dat as ek nie my mening verander nie, ek ‘n donker toekoms tegemoet gaan. Toe het ek haar gevra hoe gedagtes krimineel kan wees, maar sy wou nie verder met my praat nie. Sy het my na die skoolhoof se kantoor gestuur en ek het my straf ontvang. My foto hang nou teen die skool se muur met onderskrifte wat die ander leerlinge waarsku dat ek kriminele neigings toon. Ek is nie seker of ek my daaroor moet bekommer nie.

12 Mei 2157

Ek het vandag ‘n lang gesprek met my pa gehad. Eerstens het hy gesê ek moet my mond hou, dat dit nie die moeite werd is om met die onderwysers te baklei nie. Hulle het hul pligte wat hulle bind en kan nie anders as om die wette en reëls na te kom nie. Gelukkig stem hy saam met my dat die situasie huidig slegter is as voorheen.

Tweedens het hy die werklike toestand hier op Aarde en die gebeure wat daartoe gelei het verduidelik . Ek het natuurlik nie alles verstaan nie, maar nou weet ek dat ons nie werklik oor selfbeskikking beskik nie. Ons is net ‘n klein deelstaat onder die Wêreldregering. Eintlik weet niemand waar die mag werklik lê nie. Daar is net baie gerugte.

Pa het ook vertel van die nuwe waardes wat ons nou verplig word om aan te hang. Die nuwe Interplanetêre norm vereis nie alleen respek vir die ruimtewesens wat nou tussen ons lewe nie, maar ook dat ons moet aanpas aan ‘n nuwe soort lewe. Ons leiers sê dat alle lewe in die heelal absoluut gelyk is en daarom moet ons byvoorbeeld aanpas aan intelligente wesens wat in waterpype bly en menslike uitwerpsels eet. En aan lewelose lewe, sê hulle. Ek het gevoel dat daar ‘n grootskaalse teenstrydigheid tussen hierdie gedagtes was, maar het nie meer my gedagtes durf uitspreek nie. En asof ons leiers se idees nie kranksinnig genoeg was nie, het die een of ander minister ook aangekondig dat ons aardse lewe geen werklike lewe was nie en ons moes dus nuwe invloede kry. Ons aardse lewe was bloot ‘n selfsugtige bestaan sonder betekenis en dit sou ons baat om aan te pas.

Pa het bygevoeg dat ons huidige situasie al dertig jaar voortduur. Ons eerste kontak met vreemde intelligente wesens was deur radio-astronomiese stelsels. Ons as die mensdom was baie bly dat ons nie meer alleen in die heelal was nie. Sommige van die wesens het gou gevra of hulle hier na Aarde mag verhuis. Niemand wou die ruimtewesens se versoek teenstaan nie.

Later het ons besef dat daar ook baie ander intelligente lewensvorme is. Dalk te veel.

Ons het besef dat ons die baie verskillente intelligente wesens wat na ons planeet wou verhuis moes ontvang. Toe begin ons leiers aankondig dat ons op pad na ‘n Interplanetêre beskawing is wat almal se lewens sal verbeter. ‘n Beskawing wat ryk is aan intelligente lewensvorme, elk met hulle eie gewoontes, is die enigste beskawing wat die toekoms sou oorleef, het hulle ons wys gemaak. Ons moes dus ons wette en die ruimtewesens se gewoontes saamsmelt sodat hulle ook ‘n plek hê hier sou hê. Dat dit baie duur geword het vir die belastingbetalers het nie getel nie. Net so min dat ons storthokkies en kleinhuisies onveilig geword het. En dat die lewe self onvoorspelbaar geword het. Die leiers sê dat ons ons skuld moet betaal deur die intelligente lewensvorme uit die heelal op ons planeet te vestig, maar niemand kan ons vertel wat die skuld is en hoekom dit ‘n interplanetêre beskawing insluit en wanneer die skuld uiteindelik betaal sal wees nie.

Daar was mense wat hierdie idees wou teenstaan. Hulle het politieke mag gekry, maar toe begin die Wêreldregering sy teenaanval. In al die lande van die wêreld het wette toe kritiek op Interplanetarisasie onwettig gemaak. Kritici word “mense wat die lewe haat” genoem. Baie mense wat blogs geskryf het, het in die tronk beland.

15 November 2158

Ek voel nou beter. Ek het medisyne gekry om my te kalmeer. Ek was ook in ‘n hospitaal waar ek die beste versorging ontvang het en my mening kon verander. Nou stel ek nie meer in ons samelewing se probleme belang nie. Ek dink ek kan nou goed aanpas aan ons ongelooflike Interplanetêre sisteem. Ek het nie meer hierdie dagboek nodig nie.

30 April 2165

Ek moet erken dat ek verkeerd was. Dit was ‘n lang proses voor ek dit besef het en ek het hard probeer om die gedagte te onderdruk, maar nou is ek seker dat ek nog steeds hierdie dagboek nodig het. Die proses het in my kop begin toe Hulle gekom het. Hulle was wesens wat hulle planeet vir een of ander rede moes verlaat. Ek was een van die eerstes wat Hulle hier met ‘n breë glimlag en ope arms verwelkom het. Ek het gereken dat Hulle teenwoordigheid net nog iets was wat ons lewe sou verryk. Ek was baie bly dat die Wêreldregering beveel het dat hulle hierheen moes kom. Om die waarheid te sê, ek was bietjie verbaas dat die ander lande in die wêreld Hulle nie wou ontvang nie. Ons plaaslike leiers was ook verbasend teësinnig om Hulle hier te hê.

Nou voel ek skaam dat ek dit nie kon voorsien was sou gebeur nie. Ek is nie meer ‘n kind nie en ek moes geweet het. Ek studeer nou aan die Universiteit en behoort aan die “Intelligensia”. Die Wêreldregering het Hulle na ons land verwys omdat ons ‘n klein landjie is en nie sy bevele kon teenstaan nie. Hulle was ‘n probleem wat ons alleen moes oplos.

6 Mei 2165

Ek verstaan self nie goed hoe een soort wese ‘n probleem kan wees vir ons mooi Interplanetêre aarde nie. Dit is ‘n blywende irritasie. Wat moet ek doen?

27 Mei 2165

Die maniere waarop ons plaaslike regering die probleme nou probeer oplos, is verwarrend. Daar is geen sprake van die bewaring van Hulle lewensstyl nie. Die Minister van Binnelandse Sake sê die staat het onvoldoende geld om in Hulle behoeftes te voorsien. Dis ‘n leuen. Daar is nog steeds geld om mense op te lei in Interplanetêre maniere en aanpassing aan wesens wat lyke wil eet. Hoekom nie aan Hulle lewenswyse nie?

‘n Ander, minder slim minister het vanoggend aangekondig dat Hulle gewoontes en kultuur net soos ons s’n is – geen werklike lewe nie en nie die moeite werd om te bewaar nie. Daarom moet dit met die Interplanetêre lewensstyl saamgesmelt word.

Nou weet ek dat ek met Hulle moet probeer vriende maak. Ek moet weet hoekom Hulle so anders as al die ander ruimtewesens wat hul deesdae op hier op Aarde vestig.

16 Julie 2165

Dit was beslis nie ‘n maklike taak om met Hulle vriende te maak nie. Hulle is baie bitter en agterdogtig, veral teenoor dié wat Hulle as amptelike verteenwoordigers beskou. Hulle noem die verteenwoordigers van die staat die Onderdrukkers. Hulle het vertel dat ander intelligente ruimtewesens op Hulle planeet hul onderdruk het en Hulle dus moes vlug. Die Onderdrukkers was wesens wat Hulle daarvan beskuldig het dat Hulle die natuur onderdruk het. Die meeste van Hulle het toe hulle planeet verlaat, maar daar is nog steeds ‘n klein gebied op hul planeet waar Hulle lewenswyse bewaar word.

Vandag het ek aan ‘n verhaal gedink wat my pa jare gelede vertel het: Hy het ongeveer 35 jaar gelede met een van sy vriende by ‘n kroeg gesels het oor die verrassende nuus van die kontak met vreemde intelligensie. My pa het gereken dat daar gou mense vanaf Hulle planeet die aarde sou binnestroom. Sy vriend het gesê dat dit baie snaaks sou wees om hierdie mense in die ruimtestasie se voorportaal te sien. My pa het hom vererg en gesê dat dit nooit lagwekkend is as mense hulle planeet moet verlaat nie. Ek stem met my pa saam. Vir een of ander rede was my pa altyd geïnteresseerd in Hulle en hy was bekommerd oor Hulle toekoms. Ek self is nie so geïnteresserd in spesifieke ruimtewesens nie, maar die situasie irriteer my nou so dat dit my studie en my hele bestaan affekteer.

27 September 2165

Noudat ek vriende gemaak het met sommige van Hulle weet ek Hulle is ‘n doodgewone volk. Daar is geen rede om hulle te onderdruk nie. Ek besef nou ook dat baie dinge in ons samelewing verkeerd loop en Hulle is net plaasvervangers vir ons skuldgevoelens. En die skuldgevoelens self is die gevolg van die onderdrukker wat ons gedurig laat skuldig voel en daarom word ons so maklik deur die huidige Wêreldregering beheer. Ek weet nou ook wat my lot is. Ek en sommige van my vriende het saam met sommige van Hulle mense ‘n verset-groep gestig. Ons weet nog nie watter metodes ons sal gebruik nie, maar party van ons is selfs gereed vir geweld. Ek wil nie hê dat ons geweld moet gebruik nie, maar dat ons ‘n propaganda-oorlog moet voer teen die onderdrukkers.

6 Desember 2165

Vandag is dit die 247ste Onafhanklikheidsdag van ons ou land. Liewer, dit was voorheen die Onafhanklikheidsdag, maar deesdae word dit die Interplanetêre-dag genoem. Maar dis nie meer belangrik nie, want ons word nou deur die polisie se veiligheidsbeamptes gesoek. Ons wou nie geweld sal gebruik nie, maar ons kon die sisteem nie op vreedsame maniere bestry nie. Ons het toneelstukke waarin ons die staat kritiseer by die Universiteit se kampus aangebied, maar volgens die veiligheidsbeamptes is kritiek op die huidige samelewing ‘n misdaad. Dis skrikwekkend om te sien dat die polisie ons almal reeds ken alhoewel ons probeer het om onbekend te bly. Ons het geen ander keuse as om as ‘n ondergrondse beweging voort te gaan nie. Ons is almal redelik ontmoedig omdat ons besef dat die regering se mag baie sterker is as wat ons gedink het. Al die nuusskerms het oor die hele vasteland van laat oggend af aangekondig dat die volgende gevaarlike misdadigers, waarvan drie Aardbewoners is en vier sonder burgerskap is, deur polisie gesoek word: Mikko Laaksonen, Mohammed Zidan, Jaana Lahtinen, Zhao Yi Nong, Vladimir Stepanov, Lucinda Pienaar en ek.”

Hier het die dagboek geëindig. Dapper mense, waaronder ook díe dagboek se skrywer, was die sleutelpersone was wat die mensdom laat wakker skrik het. Dit blyk ook dat toe die mense uit die Mars kolonie teruggekom het, het die voormalige Wêreldregering sy ware kleure gewys. Die rebellebeweging het in 2166 uitgebrei totdat vryheid van die onderdrukkende sisteem verkry is. Die begeweing het waarskynlik die hele mensdom gered van verowering deur ruimtewesens. Die Dag van die Onbekende Dagboekskrywer word elke 25 April in alle skole gevier. Die ondersoeke na die Groot Wanorde gaan voort.

1 thought on “Toe Hulle gekom het – Hannu Lahti

  1. Pingback: Afrikaanse wetenskapfiksie | myAfrikaans

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui