DIE FINALE DIMENSIE – Salmon Smith

DIE FINALE DIMENSIE – 2015 © Salmon Smith

JEUGFANTASIE (2 788 WOORDE)

 

Nasli huppel vrolik met Boni, die klein Jack Russel hondjie, aan ’n leibandjie op die geplaveide paadjie in die parkie af. Dis al byna skemer.

Mevrou Hansen vra altyd net vir háár om met Boni te gaan stap. Mevrou Hansen is die huismoeder hier in die Ravol Gertse kinderhuis, hier op Worcester.

Sy, wat Nasli is, is baie lief vir diere; daarom het sy nie ’n probleem om met die hondjie te gaan stap nie.

Dis net dat sý moet hop vir elke takie hier in die kinderhuis. Die ander 14 kinders, wat ook hier bly, is bietjie aan die lui kant en steek gereeld lyf weg. Hulle kyk neer op haar en behandel haar stief. Sy verduur dit maar, want die kinderhuis is haar enigste heenkome.

Sy het haar ouers verloor in ’n motorongeluk, vroeër die jaar. Dit was op haar 16de verjaarsdag. Sy het geen ander familie nie en moes toe noodgedwonge hier in die kinderhuis kom bly – soos deur die maatskaplike dienste voorgestel.

Eendag as sy klaar is met skool, dan wil sy ook verder gaan studeer vir ’n maatskaplike werker. Sy wil ook met kinders werk en hulle oorlaai met tonne liefde.

Skielik steek Boni viervoet vas. Die hare op sy rug staan regop en hy begin te knor.

“Wat is dit, Boni?” vra sy en kyk die hond verbaas aan. Nasli draai haar gesig in die rigting waarin die hond staar. Sy sien die jong seun, wat daar alleen op die bankie, onder die groot Eikeboom sit.

“Toemaar Boni, dis ok,” paai sy die hondjie. Sy pluk aan die hond se leiband om nader te beweeg, maar Boni skop viervoet vas. Nou knor hy éérs harder.

“Hey! Wat gaan aan met jou?” vra sy en rem aan die leiband. Boni beur terug en die leiband skiet uit Nasli se hande. Hy gee ’n benoude tjank-geluid en hardloop in die rigting van die kinderhuis.

“Boni! Kom hier!” skreeu sy agterna. Sy wil agterna hardloop, maar besluit daarteen. Die hond ken gelukkig die roete tot by die kinderhuis. Dit het al gebeur dat hy losgeruk en terug huis toe gehardloop het.

Sy draai haar na die seun wat daar op die bankie sit. “Hi…” groet sy saggies.

Die klong kyk haar verbaas aan. Hy kyk vlugtig om hom rond. Hy staar haar nou oopmond aan. “Het jy nou met mý gepraat, meisiekind?” vra hy. Daar is nou ’n verwarde uitdrukking op sy gesig.

Nasli kom nader. Dís toe sy die aaklige vratte in sy gesig sien. Sy sien ook dat hy geklee is in ’n vuil verflenterde T-hempie en langbroekie. Daar is ook geen skoene aan sy skurwe voetjies. Sy een been lyk nog boonop gebreklik. Agter sy rug is ’n aaklige boggel.

Sy voel skielik baie jammer vir die klong. Sy besef dat hy natuurlik geen maats het, oor hy so gebreklik lyk. Hy moet seker baie eensaam voel, dis dié dat hy so alleen hier sit.

“Hi, my naam is…” Sy voltooi egter nie haar sin, want die klong se skielike, vreemde gedrag verbaas haar. Hy hou sy regterhand in die lug en waai dit voor haar gesig.

“Haai, kan jy my regtig sien?” vra hy met groot oë.

Nasli frons. Dis darem ’n eienaardige klong dié, dink sy by haarself.

“Hoe lyk ek?” vra hy vinnig.

Nasli staar die vreemde klong verbaas aan. “J-jy lyk… uhm…” Sy slaan haar hand oor haar mond voor sy die klong hier voor haar in detail kan beskryf. Sy is bang dat sy dalk sy gevoelens kan seermaak.

Hy voel natuurlik baie selfbewus oor sy gebrek. Dis hoekom hy hier so eenkant en alleen onder die boom sit.

Sy loer na die ander mense wat hier rondom hulle in die park rondwaal. Dit lyk asof hulle, hulle nie eens aan die seun steur nie.

Almal skuur hier by hulle verby, sonder om eens in sy rigting te loer.

Skielik helder die seun se gesig op. “Jy kan my regtig sien!” kry hy dit opgewonde uit.

’n Rilling gaan teen Nasli se rug af. Hier is groot fout met die klong, besef sy.

“J-jy moet my nou verskoon… uhm… Ek moet by die huis kom,” maak sy vinnig verskoning.

“Wag! Moenie weg gaan nie… asseblief” sê hy byna smekend, toe Nasli aanstaltes maak om te loop.

Sy steek vas en draai terug na hom. Hy staan van die bankie af op en kom na haar aangehuppel. Nasli rittereer verskrik.

“Moenie vir my bang wees nie, asseblief,” kom dit saggies van hom.

“Jy kan my sien. Dit beteken dat jy die uitverkose een is,” gaan hy onverpoos voort.

Voor Nasli kan reageer op die klong se snaakse uitlating, kom ’n verliefde paartjie hand aan hand in die paadjie op hulle afgestap. Sy gee pad toe die paartjie byna op hulle is.

Sy sien dat die paartjie van plan is om die klong onderstebo te loop.

“Pasop!” skree sy en gryp instinktief die klong aan die hand. Skielik is daar ’n helder flits en dit lyk asof die hele wêreld om haar vervaag. Sy kan die dowwe skimbeelde van die paartjie uitmaak en dit lyk asof hulle skielik vassteek.

“Waarheen het die meisiekind dan nou so skielik verdwyn?” hoor sy dofweg die vrou se stem.

Toe skielik is die bekende omgewing weg en dis net sy en die vreemde klong wat agterbly; omring deur ’n digte mis.

Nasli staar groot oog in die mis rond. Sy probeer uitmaak wat nou met haar gebeur het. Sy probeer die omgewing om haar peil, maar sy staar net in ’n grys muur van niks vas.

Sy besef dat sy nog steeds die vreemde klong se hand vashou. Sy los dit skielik, asof dit ’n vuurwarm yster is.

“W-wat gaan aan? W-waar is ek? Wie is jy?” rammel sy die vrae af, terwyl sy haar gesig stadig na die klong toe draai.

Skielik maak die bekommerde uitdrukking op haar gesig plek vir skok, gemeng met verbasing.

Van die eens gebreklike seun, met die boggelrug, is daar nou geen teken nie. In die plek daarvan, staan daar die allerpragtigste jong seun, met ’n spierwitvel en potblou oë.

Hy is geklee in so ’n snaakse “Peter Pan-uitrusting”, waaarvan die stywe sybroekie aan sy atleties-geboude bene kleef.

“E-ek d-droom,” stotter Nasli.

“Nee, jy droom nie,” sê die seun. “Dit is alles deel van die Finale Dimensie se plan.”

Nasli kyk die seun met groot oë aan. “Waarvan praat jy?” vra sy. Sy rittereer skielik. “Ek wil huistoe gaan, asseblief!”

“Nee, Nasli, jy is nou deel van dié nuwe wêreld.”

Nasli steek skielik vas. “Hoe ken jy my naam,” fluister sy effe hoorbaar.

Die klong staan nader en neem haar hand in syne. “Jou naam het net in my kop opgekom. My naam is, Burton Bukon. Ek is van ’n wêreld wat bestaan in ’n dimensie binne in julle wêreld, maar onbereikbaar vir julle.”

Nasli besef dat die klong se aanraking ’n soorte kalmte oor haar bring. Sy voel nie meer bang nie. Dit lyk asof hy haar met ’n towerspreuk oorrompel het.

Burton draai skielik om en trek haar agter hom aan. “Voor ek jou alles verduidelik, moet ek jou eers iets gaan wys,” sê hy en waai met sy regterhand voor hom.

Die mis verdwyn in ’n oogwink en voor hulle verskyn die allerpragtigste sprokieswêreld. Nasli se mond val oop van verbasing, toe sy die pragtige groen grasvelde sien, wat strek tot by ’n groot woud met die hoogste bome.

Agter die woud, in die verte, troon die allerblouste berge met die witste sneeu op die pieke. Daar loer ’n massiewe maan daaragter uit.

“Kom, dis nog niks,” sê Burton en trek Nasli agter hom aan.

Nasli voel hoe haar voete outomaties beweeg. Sy het geen beheer daaroor nie. Dit lyk asof hulle oor die gras sweef.

Hulle bereik die woud in ’n oogwink. Sy verkyk haar aan die dik massiewe stamme van die bome, met die welige blaredak daarbo. Sy het nog nooit sulke groot welige bome gesien nie.

’n Ligte briesie waai deur die bome en dit lyk asof die bome vir hulle fluister. Sy sien die allerpragtigste bokkies tussen die bome, aan die sappige groen gras, wie.

Die bokkies lyk so rustig en kyk nie eens op, toe hulle twee hul verskyning maak nie – amper asof hulle nie bang is vir enige gevare nie.

“Jy kan nader gaan en oor hul koppe streel. Hulle sal nie skrik nie,” hoor sy Burton skielik hier langs haar praat.

Stadig beweeg sy nader aan ’n bokkie en haar kleintjie, wat nog besig is om aan haar te drink.

Versigtig steek sy haar hand uit en raak aan die ma se koppie. Die ma hou onmiddelik op met wei en kyk Nasli nuuskierig aan. Die kleintjie hou ook op met drink en staan nader sodat Nasli oor sy koppie ook kan streel.

“Haai, dis so wonderlik,” sê sy en gaan kniel by die klein bokkie. Sy slaan haar arms om sy nekkie en gee hom ’n ligte drukkie.

Skielik verskyn ’n massiewe maanhaarleeu tussen die bome. Dit kom stadig op hulle afgeloop.

Nasli spring verskrik regop en staar vreesbevange na die leeu.

“B-Burton! D-daar’s ’n leeu!” kry sy dit stotterend uit.

Burton glimlag en loop vreesloos die leeu tegemoet.

“Hey! Waantoe gaan jy nou? Kom terug! Die leeu gaan jou verskeur!” gil Nasli dit uit.

“Dis in die haak, Nasli,” sê Burton en loop tot by die leeu. Hy steek sy hand uit en vryf deur die leeu se maanhare. Die leeu maak sulke oulike purr-geluidjies en vryf sy massiewe kop teen Burton se maag.

Nasli kan nie haar oë glo nie. In háár wêreld sal Burton nou lankal deur die leeu opgevreet gewees het.

“Kom nader,” onderbreek Burton haar gedagtegang. “Hier in my wêreld lewe ons in harmonie met die diere saam.”

Versigtig stap Nasli nader. Sy kyk vas in die die leeu se goudgeel oë. Dis sulke sagte oë wat lyk asof dit deur jou kyk.

Skielik klim Burton tot op die leeu se rug. “Kom spring op,” beveel hy haar en hou sy hand na haar toe uit.

“Gaan ons op dié ding se rug ry?” vra sy met groot oë en gryp nogtans sy hand vas.

“Ja kom, jy sal dit geniet,” sê hy en swaai haar tot agter sy rug.

Die leeu begin tussen die bome deur hardloop.

Nasli knyp haar oë toe en klou vir al wat werd is om Burton se lyf.

“Jy moet jou oë oophou, of anders sien jy nie die prag van dié wêreld nie,” sê Burton, amper asof hy kan aanvoel dat sy haar oë toeknyp.

Nasli se oë fladder oop en sy sien die wonder van die woud raak. Die pragtige natuurskoon en die klein wouddiertjies, wat op die vloer van die woud vrolik rondskarrel.

Verbaas staar sy na die klein kreature wat saam met hulle deur die woud vlieg. Hulle lyk soos klein mensies met sulke groot punt ore. Agter hul ruê is sulke dun deurskynende vlerkies wat vrolik wapper.

“Dit is woudelwe,” sak Burton af, asof hy haar gedagtes kan lees. “As jy op die grond, tussen die boomwortels kyk, sal jy hul paddastoelhuisies sien.

Ja, alles wat in julle aardse kinders se verbeelding leef; leef werklik hier.”

Skielik maak die woud voor hulle oop en ’n pragtige vallei lê voor hulle uitgestrek, tot so ver as die blou berge. En in die middel van die vallei lê die allerpragtigste dorpie. Daar is pragtige kliphuisies, netjies langs mekaar, met koorsteenjies waaruit die rook behaaglik draai. In die middel van die dorpie, is ’n pragtige kasteel waarvan die torings bo die dakke van die huisies uittoring.

Die leeu kom tot stilstand en Burton spring van sy rug af. Hy steek sy hand uit en help Nasli om af te klim.

Onmiddelik draai die leeu terug en verdwyn weer die woud in.

Burton wys met sy hand so oor die vallei.

“Dít is nou my wêreld, Nasli,” sê hy en skielik versomber sy gesig. “Die voortbestaan van die rustige lewe word bedreig. Nie lank nie, dan gaan alles wat jy sover ervaar en gesien het, tot niet.”

Nasli staar Burton verbaas aan.“Nee, waarvan praat jy?”

Burton draai hom na haar en kyk haar vierkant in die oë. “Ek sal nou aan jou verduidelik, dan sal jy verstaan.

“Dié wêreld staan bekend as die Finale Dimensie. Dit word so genoem omdat dit ons finale tuiste is. Ons voorouers is miljoene jare, deur een of ander hoër mag hier geplaas.

“Daar word vertel dat almal wat rein van harte was, skielik in ’n oogwink uit ons vorige wêreld verdwyn en toe hier beland het. Almal wat toe agtergebly het in die vorige wêreld, is toe saam met dit tot niet.

“Die Finale Dimensie, is ’n dimensie binne in julle wêreld, maar dit bestaan nie werlik vir julle nie. Julle is net bewus van die dimensies waarin spoke lewe en het ’n suspisie oor vreemde kreature uit die buitenste ruim. Julle bespiegel net daaroor.

“Soos ek vroeër genoem het, lewe in dié Dimensie bestaan net in die verbeelding van jong onskuldige kinders. Dit word net afgemaak as fabels, sprokies… noem maar op.

“Ons inwoners hier, staan bekend as die Gaskins. Ons lewe hier in harmonie met alle plant en dierelewe saam, maar ons inwoners is nou verdoem tot uitsterwing. En as daar geen Gaskins meer oor is in die Finale Dimensie nie, dan sal die dierelewe en daarna die plantlewe stelselmatig disintengreer.

“Van ons wêreld sal daar dan net ’n droë dop oorbly.”

“Nee! Hoe is dit moontlik?.Dis dan so ’n mooi wêreld!” vra Nasli, duidelik bewoë.

Burton neem Nasli se hande in syne en kyk haar vas in die oë. “Nasli, in die laaste dertig jaar is hier net seuns gebore. Geen meisiekinders om die geslagte te laat voortleef nie.

“Die ouer vroue is al verby hulle stadium om kinders voort te bring. Dit is hoekom my pa, Grasko Bukon, hy is die heerser oor die Gaskins, my na julle wêreld gestuur het. Om ’n geskikte meisie te vind om eendag saam met my by hom oor te neem.

“Ek en sy sal dan baie kinders in die lewe bring en sodoende ons Dimensie laat voortleef. Die meisie wat ek moes vind moet rein van binne wees.

“Dis hoekom ek myself bedags sigbaar gemaak het en vermom het as ’n kreupele in julle wêreld. Ek het in parke oral in julle wêreld gebedel. Julle aardlinge het my met afsku beloer en agter hul hande gepraat.

“Wanneer dit skemer raak, het ek myself dan onsigbaar gemaak. Dis hoekom ek so verbaas was, toe jý my raaksien. Toe jy my nader sonder enige afsku, het ek besef dat jy die uitverkose een is. Jy is die een wat rein van binne is, want jy het verby my uiterlike tot binne my siel gekyk.”

Nasli kan nie glo wat sy hoor nie. Is die plek waarlik haar nuwe tuiste? wonder sy by haarself.

“Ja, Nasli, jy is nou hier om saam met my te bly,” sê Burton, toe hy haar gedagtes lees.

“E-en wat van my lewe daar in my wêreld,” vra Nasli effe bekommerd.

Burton draai om na die woud agter hulle. Hy waai met sy hand voor hom.

Skielik verskyn die aardbol voor hulle in die lug. Stadig begin dit groter raak en toe die hele lugruim hier bokant hulle vul.

“Dít is julle wêreld,” sê Burton en waai weer met sy hand deur die lug. Skielik begin gruwel beelde van donker rook wat draai, bomme wat op stede neerplof en huilende kinders, voor hulle afspeel.

“Julle aardlinge is besig om julle pragtige wêreld se ondergang te bewerkstellig. Met hulle hebsug na mag. Eindelose korrupsie, geweld en oorloë is aan die orde van die dag. Van julle wêreld gaan later net ’n rookgevulde dop oorbly; net soos my vorige wêreld.”

Burton waai weer met sy hand voor hom en die beeld van die aarde verdwyn in die niet.

Nasli se trane sit vlak in haar oë. Sy weet dat Burton die waarheid praat en dat daar niks is wat sy daaraan kan doen nie. Sy het geen familie oor in die wêreld nie en het so te sê alleen bestaan.

Sy kyk op in Burton se gesig. Sy is bereid om haar lewe in háár wêreld prys te gee vir ’n lewe saam met die pragtige jongman in sý wêreld.

Sy kyk af na die pragtige dorpie, wat soos ’n sprokieswêreld daar onder in die vallei lê.

Sy vat Burton se hand styf vas in hare.

“Kom gaan stel my aan jou wêreld voor. Ek sien uit na ’n lewe saam met jou in die Finale Dimensie,” sê sy met die allermooiste glimlag op haar gesig.

DIE EINDE

4 thoughts on “DIE FINALE DIMENSIE – Salmon Smith

  1. KORREKSIE: In paragraaf 14: “Hi my naam is Nasli” Dit moet wees: “Hi my naam is…” Sy voltooi nie haar sin nie want die vreemde klong se aksie verbaas haar.
    Dan is dit verstane hoekom sy later in hoofstuk 45 verbaas is hoekom Burton haar naam noem, oor sy dit nie aan hom genoem het nie. Jammer hoor!!

  2. Ja-nee, Salmon Smith, ek verstaan jou storie, en dink dit is baie oulik. Ek kan sien dat daar ‘n jeug fantasie boek in jou broei, en ek dink dit het tyd geword dat jy hom nou begin skryf. Sterkte met die kompetisie.

  3. Dankie Chantal, vir daai kompliment. Dit beteken baie vir my. Ek het al daaraan gedink om te werk aan ‘n jeug fantasie roman en binnekort begin.

  4. Ek het klaar aan my fiksie een begin werk. Voel nou gereed daarvoor.

Comments are closed.