Lusmaker – Arwantië 2953

ARWANTIË 2953 – Eben van Renen
ThOMPSON BOEKDRUKKERY (2011)

Foto - Persverklaring - Eben van Renen2011 - Arwantië 2953 - Eben van Renen

 

 

 

 

 

 

 

Arwantië:

Ligging:
Onbekende Ruim. 130,000,000 ligjare buite die Afrika Nasies Ruim (ANR).
Bevolking:
1,453,000

Tipe:
Mengsel plaaslike industrie, maar oorwegend landbou. 80% selfonderhoudend.
Alliansie:
Geen, sorteer onder Onbekende Ruim klassifikasie.
Politieke Houding teenoor:
ANR (Afrika Nasies Ruim): Versigtig.
SK (Sterre Konfederasie): Positief.
HEO (Huis van die Ewige Ooste): Negatief.
Bra-a-koer: Neutraal.

Geskiedenis Abstrak:
HOE
het dit gekom dat Arwantië in die jaar 2920 gekoloniseer was deur ‘n vloot ruimteskepe – oorspronklik vanuit die grensgebied tussen die Sterre Konfederasie en die Afrika Nasies Ruim? Die 2 Jaar Oorlog tussen die Sterre Konfederasie en die Afrika Nasies Ruim, aangaande sekere planete op die grens gebied, het die inwoners van daardie planete baie hard getref. Altesaam 4 planete was geaffekteer. Drie van die vier planete was hoofsaaklik landbouplanete. Inwoners van twee van die planete aan weerskante van die grenslyn het hulle koppe bymekaar gesit en teen hulle eie Huise gerebelleer. Die laaste strooi was die vernietiging, deur kern oorlogvoering, van die derde landbou planeet, Oseuss-2. Die ander twee landbou planete, Dormahal en Oseuss-1, het nie gewag dat hulle planete ook as slagveld omskep word nie, en het saamgewerk op soek na ‘n planeet wat hulle tesame kon koloniseer. Hierdie twee volke het ook ‘n gemeenskaplike taal, eenvoudig bekend as die Taal, en kultuur gedeel. As gevolg van hulle landbou ingesteldheid en gemeenskaplike wortels in Terra-geskiedenis, het ander volke hulle as die Boerikaners geïdentifiseer. Die ‘Boerikaners’ sou sélf nooit sekerheid oor hierdie naam kry nie.

Zanshaphile was ‘n tydelike tuiste, toe die Afrika Nasies Ruim hulle genooi het om hulle daar te hervestig. In die tydperk vanaf 2905 tot 2908 het die nuwe bewoners wondere verrig met hulle landboukundigheid en het Zanshaphile vinnig gegroei tot ‘n landbou juweel in die Afrika Nasies Ruim. In Julie 2908 land twee regimente Afrika Nasies Ruim troepe op Zanshaphile, met ‘n vloot Afrika Nasies Ruim burgers van die droogte-geteisterde Ghana-2 kort op hulle hakke. Die Afrika Nasies Ruim dring aan dat die ‘Uitlanders’ hulle plase moet prysgee. Na vele pleidooie en besprekinge gee die Afrika Nasies Ruim toe dat Boerikaners mag aanbly as ‘landbou adviseurs’, bloot om seker te maak dat grondhervorming suksesvol geskiet. Vanaf 2909 tot 2915 beland meer en meer Afrika Nasies Ruim burgers op Zanshaphile, en die ‘Uitlanders’ word op verskeie terreine verdring. In 2916 word ‘n geheime sending van 4 verkenningstuie die Ruimte ingestuur om vir ‘n alternatiewe heenkome vir die Boerikaners te soek. Twee sou nooit terugkeer nie. Die een ruimteskip kon geen alternatief gevind nie, maar Ark-3 het ‘n planeet 130,000,000 ligjare binne die Onbekende Ruim opgespoor. Die storie daaragter is nou al legende, want niemand het dit al so ver binne die Onbekende Ruim gewaag nie. Tog, eers na die Rooi Slagting, waar Afrika Nasies Ruim veterane ‘n etniese slagting teen die Boerikaners gevoer het, het die meeste van die Boerikaners hulle tasse gepak. Hulle laaste besittings en grond is verruil vir die eksodus. Die Sterre Konfederasie het drie ou C-klas diepruimskepe geleen. Op 16 Desember 2920 land ‘n mengelmoes skepe op Planeet SDX119376. Die naam word gou verander na Arwantië, genoem na Generaal Arwan Fourie, die bevelvoerder van Ark-3 en die dogter van die Boerikaners se eerste president Anton Fourie.

Na die Laaste Trek word Arwan Fourie verkies as die eerste Planetêre President, en die planeet word as onafhanklik verklaar. Die bevestiging van hierdie klassifikasie word twee jaar nadat die VN die versoek amptelik bevestig het ontvang, ondanks ‘n halfhartige poging deur die Afrika Nasies Ruim om die planeet binne sy eie gebied te laat verklaar. Die planeet was veels te ver uit Afrika Nasies Ruim se ruim uit, en dus het die Verenigde Nasies die Afrika Nasies Ruim se protesaksie van die hand gewys. Daar is uiteindelik besluit op ‘n ander, meer inklusiewe benaming vir die volk se identiteit; Arwantyne.

“Vandag lei die begin van ‘n nuwe era in. ‘Buitelanders’ of ‘buitewêrelders’ mag ons miskien wees, nie meer tuis in die Bekende Ruim nie, maar ten minste het ons ‘n permanente tuiste gevind. Ons eie grond. Nie langer sal ons harde werk ander mense bevoorreg terwyl ons eie mense ly nie. Van vandag af sal die Hele Ruim ons miskien uit die oog verloor, maar ons sal ten minste nie ons onafhanklikheid verloor nie. Van vandag af sal ons ‘n nuwe volk wees. Arwantyne, staan op en kyk die toekoms in die oog,” was die inwydingsboodskap, toe Arwan Fourie haar mense aangevuur het om weereens van voor af te begin bou.

   Belangrike datums:
2902
Twee Jaar Oorlog (SK en ANR)

2904 Oseuss-2 deur kern aanval vernietig. Noodregering gesamentlik vir Oseuss-1 en Dormahal geskep. Nuwe tuiste word gesoek. ANR bied Zanshaphile aan.
2905 Boerikaners bewoon Zanshaphile.
2907 Landbou goed op dreef.
2908 ANR Grond Herverdeling Inisiatief: Twee regimente ANR troepe & ‘n vloot ANR burgers uit droogte-geteisterde Ghana-2 land. Na samesprekings word Boerikaners toegelaat om as Landbou Adviseurs aan te bly.
2908 – 2915 Meer as vier miljoen ANR burgers stroom Zanshaphile in.
2916 Die Noag Inisiatief: 4 Verkenningstuie uitgestuur om na nog ‘n ander tuiste te soek. 2 keer nooit terug nie. Ark-1 voltooi ‘n vrugtelose sending. Ark-3, onder leiding van Generaal Arwan Fourie, het ‘n bewoonbare planeet (SDX119376), deel van ‘n vier planeet sonnestelsel en wat ook spog met drie mane, in die Onbekende Ruim opgespoor.
2919 Die Rooi Slagting: ANR veterane se etniese oorlog op Zanshaphile teen die Boerikaners.

2920 Die Laaste Trek begin. Eerste golf Voortrekkers land op planeet SDX119376, en herdoop dit tot Arwantië. Planeet word stelselmatig geskandeer vir hulpbronne. Westelike halfrond, en spesifiek die Noordelike Halfrond word verkies weens die nabyheid van verskeie hulpbronne. Die Goue Driehoek word gevestig tussen Bassonstad, Vryheid en Sterrewag.
2921 De Hoop, kusstad in die Suidelike Halfrond, word gekoloniseer weens die nabyheid van goeie visbronne. Gebiede deurgaans afgebaken, infrastruktuur gebou.
2922 Onkostes bereik ‘n hoogtepunt. Groot skuld teenoor die VN banke. Invoere hoogtepunt.
2923 Eerste plase begin kommersieel produseer. SK kontrakteurs help met infrastruktuur.
2924 Arwantyne word geskok deur die eerste Tar-strooptog. Dit vind plaas op Sterrewag. Die moontlikheid dat die Tar ‘n geheime sterhek naby aan Arwantië het, word dadelik bespreek. Die noodsaaklikheid van ‘n weermag word duidelik. ‘n Klein uitvoermark begin op die been kom. 50% van die belangrikste Infrastruktuur voltooi.
2925 Arwan Fourie sterf. 27 Februarie (haar geboortedatum) word as Arwantynse Volksdag ingestel. Haar dogter, Arwan Fourie die Tweede neem die leisels oor. Die Gemeenskapsfederasie, met die Gemeenskap as kern en ‘n klein Federale Regering word stadig op die been gebring.
2930 Infrastruktuur op 90%. Kontrakteurs vertrek. Plaaslike sektore goed op dreef. Uitvoere sterker, maar Arwantië meestal ‘n selfonderhoudende planeet, met handel tussen die verskillende gemeenskappe as grootste dryfveer. Weens die afstand en kostes wat gepaard gaan met Arwantië se ligging buite die Bekende Ruim, word in – en uitvoere tot die minimum beperk. (Soms word hierdie tydperk die Goue Dekade genoem.)
2940 Skuld uitgewis. Woestyn Siklus (WS). Wetenskaplikes se vermoedens word bevestig. Die planeet het tekens gewys dat daar ‘n tipe siklus bestaan. Elke twintig jaar word die planeet met ‘n droogte van twee jaar getref. Voorbereidings was te stadig om veel verskil te maak. Die Volks Reserwe word amper uitgeput teen die einde van die WS a.g.v. noodsaaklike invoere.
2942 Tweede Goue Dekade. Bevolkingsgroei styg dramaties.
2952 Derde Goue Dekade. Drie vragskepe word onderskep deur die Tar. Die noodsaaklikheid van ‘n militêre slaankrag in die ruimte word bespreek gedurende ‘n Volksraadsitting. Die Arwantynse Weermag word uitgebrei met die Arwantynse Ruimtekorps. In die begin sluit die AR net 34 U-klas ruimtevegters in. Voortaan word alle uitvoere wat in en uit Arwantynse Ruim beweeg vergesel deur AR vegters. Dieselfde jaar word twee Tarvegters vernietig, maar nog twee vragskepe word erg beskadig.
2953 ‘n Verdere aantal U-Klas vegters word haastig aangeskaf. Die Fort Plaaslike Wapentuigvervaardiger begin ‘n nuwe vegter in hulle fabriek op Sterrewag ontwikkel: Die Laksman, ‘n Veeldoelige Ruimte en Atmosferiese Vegter.

1 thought on “Lusmaker – Arwantië 2953

Comments are closed.