Lusmaker – Die Jagter Kronieke: Skemer Oorlog

Die Jagter Kronieke: Skemer Oorlog (Boek 3) – Nico Smit
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)

Nico Smit - Die Jagter Kronieke: Die HalfbloedDJK Skemer Oorlog - Voorblad

HOOFSTUK 1

KONING Centurios staar met dowwe oë na sy bleek, maer hande met diediep blou are duidelik sigbaar onder die dun vel. Neerdrukkende gedagtes en emosies maal deur Koning Centurios se binneste.

Oud. Dis wat ek is. Ek is oud, my tyd in hierdie liggaam is verby en wat laat ek agter?

Die Heilige Stad en die monargie word van binne en buite bedreig! Is ons dan nêrens veilig nie?

Die dood, die Groot Waansin, het die Neaniete al daardie ligjare deur die Vou gevolg – vanaf Hirion tot in Kazdan.

Is die Neaniete dan vir ewig tot selfvernietiging verdoem?

Is dit ons uiteinde? Is ek die heerser, wat deur die res van die skepping, verantwoordelik gehou sal word vir die dodelike gevolg van hierdie ellende wat ons beval het? Wat staan my te doen?

 In die raadsaal is verskeie hooggeplaaste ministers. Aangewys deur die Heilige Stad se kunsmatige intelligensie as die uitverkore elite. Elkeen ’n leier, ’n verteenwoordiger van sy of haar distrik.

Die Heilige Stad is in vyftien distrikte verdeel wat elkeen verskil in bepaalde opsigte van die ander. Daar is die buitewyke, die vyf distrikte rondom die stad en naaste aan die muur. Dis die stiller areas, weg van die bedrywige en gejaagde middestad. Die daaropvolgende vyf distrikte is die meer dig bewoonde gebiede. Hier floreer die wolkekrabbers, die toringstrukture, die tempels en wonings van die rykes en die lewe van vleeslike plesier en aktiwiteite wat met so ʼn lewe saamgaan.

Dan is daar die binnekring. Die aanlegte, die industrieë en die laboratoriums met die Kristal Paleis die middelpunt. ’n Reuse glas- en kristalagtige struktuur wat skitter en troon as ’n baken van heerskappy en hoop oor die Heilige Stad.

Die woonplek van die koning, die monargie, die middelpunt van die Neaniete se samelewing. En hoog bokant die stad, bokant hierdie gejaagde skemerwêreld, strek die energieskild soos ’n beskermde koepel.

Die gedruis van baie stemme vul die kliniese skoon vertrek. Die ministers, uitgevat in pers, wit en ligte geel togas en sagte kledingstukke is druk besig om die krisis wat die Heilige Stad beval het, te bespreek. Daar heers ’n mate van paniek en dit kom duidelik na vore in die skril stemtone van verskeie ministers. Hierdie is ’n noodvergadering, byeen geroep deur die koning. Die onderwerp, die uitbreek van die Groot Waansin in die voorstedelike distrikte.

Koning Centurios besef dat hy vinnig beheer oor hierdie vergadering sal moet terugwen. Paniek is aansteeklik en paniek is die allerlaaste ding wat nou nodig is. Nee, daadwerklike optrede is nodig en hy is nie verniet die koning nie. Hy moet kragdadig optree.

“Stilte!” roep hy hard uit. Sy stem gevul met krag. Verbasend gesien in die lig van sy liggaamlike toestand. Hy staan stadig van sy stoel af op. ’n Doodse stilte het oor die vergadering geval en alle oë is op die koning gerig.

Koning Centurios kyk indringend na sy volgelinge, sy leierskorps. Die room van die Neaniete se samelewing.

“Vriende, mede Neaniete luister na my. Dis baie duidelik dat daar diepe verraad skuil agter hierdie aanslag op ons samelewing. Ek is bevrees dat dit selfs so diep as die monargie mag strek. Ja, hoe ongelooflik dit ook al mag klink, besef ek nou dat die Heilige Stad en al haar inwoners onder ’n bose spel verkeer.”

Koning Centurios druk sy stoel terug en stap stadig om die groot tafel.

“Ek is bevrees dat die enigste manier wat ons het om ons geliefde stad en sy inwoners te red, is deur krygswet af te kondig. Ja, die stad en haar veiligheid, ons veiligheid, moet in die hande gelaat word van die koninklike lyfwag.”

Hy het onmiddelike teenkanting verwag. Uitroepe van skok en ongeloof, maar in plaas daarvan word hy begroet met doodse stilte. Koning Centurios glimlag wrang. So, hulle besef die dodelike erns van die situasie. Maar die vraag is hoe die inwoners gaan reageer.

“Distrikte veertien en vyftien is totaal besmet deur die Waansin virus. Die Vlieër wat daar neergestort het, was die draer van die dood. Die samesweerders wat daarvoor verantwoordelik was, sal met hulle lewens boet vir die verraad. Dit kan ek u verseker. Maar intussen moet ons die aanslag van die virus beperk tot die twee distrikte. Ministers en vriende, u besef wat dit beteken. U weet wat ek van u vra.”

Die koning het stadig rondom die groot ovaal tafel beweeg. Sy ministers se blou oë bekommerd, angstig op hom gerig. Hy is die oudste hier. Hy, hulle koning, het immers die reis deur die Vou meegemaak toe die Neaniete van Hirion gevlug het. Wie anders as hy, sal beter weet wat die impak van die virus op hulle samelewing inhou. Hulle het niemand anders om na op te kyk nie. Hy is hulle enigste hoop.

“Vriende, wat ek vra, is die opoffering van baie lewens. Ja, Neaniete se lewens, ons volksgenote. Besmetting deur die virus is ’n doodsvonnis. Indien ons dit nie inperk nie, indien ons dit nie onmiddelik beheer en vernietig nie, sal die Heilige Stad binne enkele maande oorstroom word deur die Ellendes.”

Nou is daar uitroepe van skok. Paniek pak die ministers beet en dreig om te ontaard in angstige en desperate aansprake en voorstelle.

Koning Centurios laat hulle vir ’n oomblik begaan. So, dan is dit die begin van die einde. Hy lig sy hand en die rumoer bedaar. Slegs enkeles redeneer nog met mekaar, maar dan raak hulle ook stil.

“Ons het geen keuse nie, Vriende. Die koninklike lyfwag sal ingestuur word en geeneen mag lewendig uit die twee distrikte ontsnap nie. Vir tyd en wyl sal dit eers afgesper word. Dis reeds as ’n ‘geen toegang sone’ verklaar. Volle militêre beheer is toegestaan. Dis ons enigste redding op hierdie oomblik.”

’n Jong minister aan die onderpunt van die tafel lug sy mening: “My koning, dit sal lei tot algehele chaos onder die inwoners. Diegene wat nie besmet is in daardie twee distrikte nie, word nou die doodsvonnis opgelê deur hierdie vergadering. Dis volksmoord! Ons kan dit nie doen nie. Daar moet ’n ander uitweg wees.”

Koning Centurios staar vir ’n oomblik na die jong Neaniet. Hoe onkundig en so onskuldig. Hy skud sy kop stadig: “Nee my liewe Crouxur. Dit sal volksmoord wees indien ons nie nou daadwerklik optree nie. Jy het geen idee watter impak hierdie virus kan en sal hê, indien ons nie nou optree nie.”

“My koning. Ons voorouers kon dit nie op Hirion beveg nie. Hoe kan ons dan enigsins hoop om dit hier te keer? Is die stryd dan nie alreeds verlore nie?” Die minister wat die opmerking maak, is ’n Neanietiese vrou. Tydens die gesprekvoeringe tot dusver was sy ’n stil randfiguur. Maar distrik veertien is aan haar leierskap toevertrou. Dis hulle vir wie nou klaarblyklik die doodsvonnis opgelê is.

Koning Centurios kyk na die statige minister. Die sagte pers kleed en wit mantel val treffend om haar skouers. Sy is ’n pragtige vrou met lang donker hare waarin die grys soos silwer versiersels skitter. Vir haar het hy ’n sagte plekkie. Hy glimlag effens en pers dan sy lippe saam: “U is heeltemal korrek, Nutra Amerulus. Hierdie keer is die Kuur egter binne ons bereik.  Ja, dis hier op Kazdan.”

Koning Centurios laat sy woorde vir ’n oomblik in die lug hang. Hy bestudeer die gelaatstrekke van sy ministers. Hou elke uitdrukking, elke senuweeagtige flikkering van die oog of vroetel met die hande, fyn dop. Hy het geen idee wie om te vertrou nie. Iemand hier kan ook ’n verraaier wees.

“Ja, die Kuur is binne ons bereik. Dis al wat ek vir u op die oomblik kan meedeel. En vir die oomblik vra ek u om my te vertrou en om daardie vertroue in die monargie te bevestig deur my voorstel aan hierdie raad, soos ter tafel gelê, te ondersteun.”

Koning Centurios kyk indringend na Nutra Amerulus. Sy is nabye bloedfamilie van sy eens getroue dienaar, Darkus Amerulus. Hy hoop heimlik dat haar familie die monargie nog steeds goedgesind is. Maar wat sal haar reaksie nou wees op die versoek om krygswet uit te roep en dit in háár distrik? Het sy enigsins ’n ander keuse?

Hulle oë ontmoet en vir geruime tyd staar sy na hom. Die res van die vergadering is weer druk in gesprek en redenasies. Tydverkwistende kibbeling. Hulle het op die end geen keuse nie. Almal hier besef dit, maar niemand het die moed om dit eerste te bevestig nie.

Nutra kyk lank vir haar koning. Sy weet wat hy verwag. Weet dat hy op haar stem staatmaak. Sy glimlag hartseer. Hoeveel gaan weens hulle besluit sterf? Maar dit kan nie anders nie. Mag die toekomstige generasies hulle vergewe, dis te sê, indien enigiemand die komende verdoemenis gaan oorleef. ’n Traan glip oor haar ooglid. Sy knik haar kop en die lang, donker hare versluier haar stroewe gelaat.

Haar gebaar gaan nie ongemerk verby nie. Een na die ander volg die hande, of ’n knik van die kop. Almal is eenparig. Onder normale omstandighede sou koning Centurios geglimlag het oor sy oorwinning. Maar hierdie is geen oorwinning nie. Hierdie is ’n doodsvonnis.

Stadig beweeg hy terug na sy stoel. Die vergadering het besluit. En die koning sal opdrag gee dat die besluit uitgevoer word.

Maar voor koning Centurios homself neerplaas in die silwer raamwerk van die stoel, ruk ’n geweldige slag die raadsaal. Die vertrek skud en sidder onder die aanslag van vele skokgolwe. Verskrikte en angsbevange uitroepe vul die vertrek. Alarms raas en skril buite deur die wandelgange. Opgewonde stemme kan gehoor word. Kortaf bevele en dan gly die silwer deure van die raadsaal oop. Etlike offisiere van die Koninklike Lyfwag storm binne. Hulle eerste prioriteit is die veiligheid van die koning.

Die offisiere vind die verskrikte koning op die koue vloer. Hulle gryp hom sonder seremonie aan die arms, lig hom op en beur deur die ministers wat nou almal storm om eerste by die vertrek uit te vlug. Deur die verwarring en rumoer bring hulle die koning op hoogte van gebeure.

Daar was ’n ontploffing op die twaalfde vloer. Die afdeling wat die Die Hoof van die Kontrole en Moniterings Eenheid vorm, bestaan nie meer nie. Dis gesaboteur. Die koning se lewe is in gevaar. Tot tyd en wyl die Kristal Paleis volkome beveilig is, sal die koning in die versterkte bunker, twee verdiepings onder die fondasie van die reuse struktuur, beveilig word.

* * *

“Ek is gebore in hierdie wêreld en het opgegroei in die oerwoude en moeraslande van die Suid-See eilande, maar ek het nooit kon droom dat die dorre verlatenheid van die Groot Vasteland so asemrowend mooi kan wees nie.” Jakut staan aangeleun teen die silwer romp van die groot Vector tuig. Hy is geklee in ’n swart kleefbroek en donker stewels. ’n Noupassende swart kleefhemp waarvan hy die lang moue ongeërg met sy dolk afgesny het, bedek sy gespierde skouers en bolyf. Die geel vuur is aan die daal daar op die verre horison. ’n Geel glinstering van hitte en vreemde skoonheid. Hy hou sy hand oor sy oë om die skerp lig weg te weer, terwyl hy na die see van fyn sand wat hulle omring, tuur.

Die Duine See. ’n Oseaan van ligbruin, golwende duine en verradelike sandpoele. Slegs enkele rotse, swart en vreemd is wyd verspreid oor die area hier voor sy oë.

 Hier neffens hom staan prinses Luthare. Beeldskoon soos altyd. Haar wit kleefpak is verruil vir ’n ligblou kleed wat sag om haar skouers val. Oor haar vlekkelose, bleek gelaat met blou oë en donker wenkbroue, is’n grys stofbril, spesiaal ontwerp om die skerp strale van die son weg te hou van die sensitiewe kykers.

Kazdan is nie haar wêreld nie. Sy is gebore in die ewige skemerlig van die Heilige Stad. Die Heilige Stad, so naby en tog ook so ver. Iewers in die rigting waar die son nou sak, is die woonplek van die Neaniete. Midde in die woestyn wat die grootste gedeelte van die reuse vasteland bedek. Hoe smag sy nie daarna om weer haar vader te sien nie. Dit sal ’n blye herontmoeting wees. Maar helaas, sy is ook die draer van slegte nuus. Die verraad teenoor die monargie loop baie diep. Ja, selfs haar eie moeder is verswelg daardeur. Sy sidder as sy dink aan die donkerte wat in haar moeder se are vloei.

Maar daar is hoop. Sy het die Kuur. En Jakut is hier aan haar sy. Jakut, die Halfbloed. En heel waarskynlik is hy die Boodskapper, soos lank reeds voorspel. Die redder van haar volk.

Sy loer onderlangs na die gespierde bruin liggaam van die Jagter. ’n Warm gloed sprei deur haar liggaam. Sy betrap haarself dat sy hom fyn bestudeer.

Die lang donker hare wat hy ongeërg uit sy oë vee, die sweet wat oor sy skoon gelaat biggel, op sy voorkop en teen sy slape. Die donker wenkbroue en die skerp blou oë wat niks miskyk nie. Sy glimlag betekenisvol. Ja, hy moet die Boodskapper wees. Dit kan nie anders nie.

Jakut word bewus van haar oë op hom: “Dis mooi, nie waar nie?”

Hy beduie na die golwende Duine See: “Ek sal vir ure hier kan staan en net die stilte en eensaamheid opdrink.”

“Ek hou van die stilte ja, maar ek sal nooit by die skerp lig en die ongenaakbaarheid van die klimaat kan aanpas nie!”

Jakut draai na haar: “Ek het nog nie die Heilige Stad aanskou nie, maar ek kan my indink dat dit ’n onvergeetlike ervaring sal wees. Maar ek dink nie ek sal ooit geskepte strukture, wat my inperk en oorweldig, verkies bo die vryheid van die natuur nie.”

Hy staar af na haar gelaat, die sagte vol lippe. Vir die oomblik is hulle alleen. Daar het twee dae verloop sedert hulle uit die kloue van Keiser Redo en die Uitgewekenes ontvlug het. Weg van Aniet en sy Kuborg vegters. Veertien dae wat hulle gestrand is hier in die klein argeologiese buitepos. Die Vector tuig is sodanig beskadig, dat dit blykbaar weke vir luitenant Katara sal neem om dit weer lugvaardig te kry.

En toe die slegte nuus. Die leier van die span argeoloë hier het bevestig dat alle kontak met die Heilige Stad onverklaarbaar verbreek is. Afgesonder, sonder kontak met die Heilige Stad. Was dit blote toeval?

Na alles wat die groepie vriende deurgemaak het, word niks meer aan toeval toegeskryf nie. Nee, daar het iets verskrikliks gebeur. Die Heilige Stad kon tog nie net in die niet verdwyn het nie. Hierdie onsekerheid vreet aan prinses Luthare. Jakut kan dit aanvoel. Die angstigheid. Haar teruggetrokke houding.

“Prinses, gee jy om as ek van die geleentheid gebruik maak om ’n paar vrae te stel?” Die uitdrukking in sy oë is die ene erns. Hy hoop heimlik nie sy probeer sy gedagtes lees nie, want dit is voldoende om hom te laat bloos. Sy is so naby aan hom. Haar reuk is so lig, sag en vars.

Sy antwoord nie dadelik nie, staar net terug in sy oë, afwagtend.

“Vertel my alles. Alles wat ek moet weet en selfs dit wat ek nie wil weet nie. Aniet het in die Rotstoring die uitlating gemaak dat daar dinge aangaande myself is wat slegs hy weet. Geheime wat vir my weggesteek word. Daarom vra ek, asseblief, moet niks vir my wegsteek nie. Ek moet weet.Verstaan jy, Luthare? Alles wat jy weet. Anders…” sy woorde sterf weg en hy draai sy gesig weg na die kaal landskap.

“Anders?” vra sy sag.

Hy swyg vir ’n oomblik. Draai sy blik weer terug na die golwende duine: “Anders verdwyn ek in hierdie woesterny en sal geen Neaniet of Jagter my ooit weer vind nie.”

Sy bly so lank stil dat hy onderlangs na haar loer. Haar gelaat is uitdrukkingloos, die groot blou oë onsigbaar agter die breë, donker lense van die grys stofbril.

“Ek moet eerlik wees met jou, maar ek weet nie eers waar om te begin nie.”

Sy glimlag skielik: “Maar ek neem aan ons het baie tyd. Dis nie asof ons vinnig hier kan wegkom nie.”

Jakut antwoord nie. Hy voel vreemd rustig en kalm. Daarom wag hy stilswyend op haar om voort te gaan.

“Vir jare het ons geglo dat die meeste intelligente wesens in die heelal deur wyse van evolusie ontwikkel het oor periodes van tien duisende jare. So het ons geglo, was dit ook die geval met die Neaniete. Maar ons was verkeerd. Geen lewe kon so vinnig op ons tuisplaneet Hirion op eie stoom ontwikkel het nie. Iewers in ons verre verlede, het daar ’n ingryping vanuit ’n ander intelligente orde plaasgevind. Daar was die legendes, die oorlewering van die een geslag na die ander. Niks kon egter ooit konkreet bewys of weerlê word nie. Totdat ons wetenskaplikes op die maan van Hirion, diep versonke onder digte ys, die reuse antieke ruimteskip opgespoor het. Kan jy jou die opgewondenheid wat geheers het oor hierdie fonds voorstel? Kan jy jou indink hoe dit moet wees om op die drumpel te staan van ’n ontmoeting met jou skepper? Dink aan al die vrae wat jy sou stel. Die hoekoms en waaroms. Maar helaas, die fonds het ook vir ons die einde van lewe gebring soos ons dit ken.’n Doodsvonnis. Maar dit weet jy reeds.

Nietemin het ons wetenskaplikes en priesterorde saamgewerk om redding vir ons volk te vind. Uit geskrifte wat gevind en ontsyfer is en met die vreemde organiese tegnologie wat ons kon bemeester het, het ons geleer dat daar ’n Kuur was vir die Groot Waansin. Ons het ook geleer dat indien die Groot Waansin ontwaak, wanneer dit versprei, daar mettertyd ’n magtige wese sal volg, bekend as die Donker Een. ’n Vernietiger van wêrelde. En dit is die koms van hierdie wese wat die priesterdom bo alles wil verhoed. Dit is verseker dat hierdie kreatuur net so werklik bestaan en net so verskriklik is soos die Groot Waansin.En dit is hier waar die voorspelling van die Boodskapper in die prentjie kom.

Volgens die geskrifte sou daar ’n iemand gebore word, afkomstig van’n hibrid van Neaniet en ’n ander, sterker ras. Hy sou ons volk help. Hy sou die draer van die Koue Vuur wees en die Donker Een finaal vernietig.”

Prinses Luthare haal diep asem. Sy hou Jakut angstig dop. Wat sou deur sy gedagtes gaan? Waaraan dink hy? Verstaan hy ooit enigsins wat sy probeer tuisbring? Maar Jakut se gelaat is kalm, onleesbaar, sy oë op skrefies getrek teen die skerp lig. Sy aarsel, maar druk deur.

“Ek weet nie presies wat die sogenaamde Koue Vuur behels nie, behalwe dat dit die bron van een of ander vorm van energie is, van lewenskeppende krag. Die teenvoeter vir die Donker Energie.

Nadat ons hier op Kazdan vir die Neaniete ’n tuiste geskep het, het die priesterdom aan die werk gespring om hierdie uitverkore redder te vind. Hiervan was ek egter onbewus.  Daiken het die proses gedryf en gerig.

Jy sien, Daiken het besef dat iewers in die genepoel van die Neaniete’n verskuilde DNS kode moet wees, ’n genetiese kode wat die voorloper is vir hierdie Boodskapper. Indien hy dit kon vind, kon hy die proses bespoedig en beheer. Maar dit was voor sy verval in die kloue van die dodelike virus.”

Prinses Luthare sluk swaar. Durf sy verder gaan met haar verhaal? Wat sal sy reaksie wees indien hy hoor dat haar volk, haar priesterorde, probeer skepper speel het? Sy byt op haar onderlip.

“Jakut, ek het dus rede om te glo dat die meeste gevalle van Halfbloed wesens tans op Kazdan die werk is van die Neaniete se wetenskaplikes en  die priesterorde. Ek is bevrees dat jy dalk nie is wie jy dink jy is nie.

Ek weet dit klink alles verskriklik vreemd, maar verstaan jy wat ek probeer sê? Verstaan jy dan ook waarom ek jou nooit die volle waarheid wou vertel nie? Ek was… ek is so bang dat jy my sou haat. En dit kan ek nie bekostig nie.”

Jakut verbreek sy stilswye en daar is ’n tikkie bitterheid in sy stem te lees.

“Nie bekostig nie? Bedoel jy dat indien ek sou leer dat ek in ’n laboratorium geskep is deur die vermenging en manupulasie van gene, dat ek jou en die priesterdom en die hele Neanietiese volk in hulle peetjie sou stuur? En daarmee saam ook julle droom om van die Groot Waansin verlos te word. Is dit wat jy bedoel, prinses Luthare?”

Sy woorde is nie hard uitgespreek nie, maar dit voel vir haar of dit hier in haar gesig uitgeskree is. Daar is ’n tikkie bitterheid in sy stemtoon. Dit ontstel haar. Dit maak seer. Sy weet nie wat om te antwoord nie. Sy woorde is immers die waarheid.

Hy skud sy kop en tuur weer daar na die verre horison. Vir ’n geruime tyd is dit slegs die sagte woestynwind se ritsel hier teen haar kleed wat hoorbaar is. Die sandkorrels wat speel teen die romp van die tuig.

“Dit maak nie sin nie. Ek het ’n vader gehad. Ek onthou sy woorde, sy gelaat. Hy was daar in die nedersetting. Hoe verduidelik jy dit?”

“Ek kan nie. Miskien is jy die uitsondering en… en juis daarom die Boodskapper wat die priesterorde nog nie kon vind nie.”

Sy vat liggies aan sy arm. Die skielike warmte van sy vel skok deur haar: “Toe ek jou die eerste keer sien en die onskuld in jou siel… op ’n manier het ek net geweet jy is die een.

Die wonde wat jy opgedoen het as gevolg van die Ellendes, moes jou dood beteken het. Nie eens ’n druppel van my bloed en al die nanno-tegnologie of die geheimenis van die Kuur daarin, sou die skade aan jou liggaam so vining en so deeglik kon herstel nie.

Ek het heimlik besef dat daar iets veel dieper aan die werk was. ’n Krag in jou, in jou genetiese samestelling.”

Jakut draai stadig terug na haar. Sy blou oë onpeilbaar. ’n Ligte glimlag plooi skielik om sy lippe.

“Dan sal dit mos baie dwaas van my wees om na die Heilige Stad te gaan, nie waar nie? Ek bedoel, as jy aanvoer ek is hierdie Boodskapper of redder of wat ookal jy dink ek is, dan beteken dit dat daar ander mag kan wees wat dieselfde kan redeneer en dan is ek niks meer as ’n eksperiment vir hulle nie. Iets waarop hulle hulle kloue wil lê?”

“Nee, ek sal dit nooit toelaat nie. My vader sal jou beskerm. Jy het my woord!” Sy praat driftig. Hy moet weet sy bedoel elke woord.

Sy glimlag groei breër en daar is ligte spot in sy stem: “Toemaar, my liefste prinses. Ek glo jou wel. Die probleem is egter dat Aniet, en miskien nog baie ander, ook dink ek is hierdie uitverkore skepsel.”

Sy knik haar kop stadig. Hy is reg. Dit weet sy nou. Aniet het dit tog immers self aan haarbevestig, daar in die dieptes van Keiser Redo se vesting. Sag fluister sy: “My vader sal jou beskerm…”

“Ek is moeg, Prinses. Moeg om keer op keer met die dood gekonfronteer te word. Moeg vir veg en worstel met hierdie donkerte in my gemoed. Hierdie vreemde veranderings in my liggaam was aanvanklik ’n geweldige skok.

Alles wat ek geglo het ek is, die rede vir my bestaan, het skielik in die niet verdwyn. Ek verlang na my oerwoud, na die eensaamheid. Ja selfs die stilte en eensaamheid van die woestyn trek my aan. Ek is geen Boodskapper of redder vir die Neaniete nie. Ek is net ’n Halfbloed en ek hoop om iewers in hierdie deurmekaar wêreld die een persoon te vind wat kan lig werp op my bestaan. Die Jagter, wat eens op ’n tyd my vader was.”

Nuwe hoop flikker in haar oë. Met groot deernis vat sy liggies aan sy hand: “Ek sal jou help om hom te vind. Met al die tegnologie en bronne tot my beskikking,” verseker sy hom.

“En wat is ek vir jou? Is ek slegs ’n eksperiment in jou oë?”

Sy direkte vraagbetrap haar onkant. Sy besef daar is ’n dieper hunkering hier, ’n dieper verlange wat nog nooit so direk tussen hulle uitgespreek is nie. Toe sy antwoord, weet sy, moet sy dit teenoor haarself erken, dat haar woorde die volle waarheid is.

“Jy weet jy is vir my baie meer as dit… jy weet ek het jou lief.” Sy druk saggies teen hom aan. Hy vou sy kragtige arms om haar skraal figuur. Voel die warmte van haar liggaam, haar asem teen sy lippe. Deur die grys lense van die stofbril kyk hy diep in die blou oë van die Vreemdeling prinses wat sy voete onder hom uitgeslaan het. Wie sy lewe, op sy kop gekeer het.

’n Sagte kug verbreek die intimiteit van die oomblik.

Vinnig los hulle mekaar. ’n Neanietiese vrou, in ’n grys oorpak en stofbril betrag hulle met ’n breë glimlag. Sy is oud, volgens algemene standaarde. Daarvan getuig die plooie en grys in die lang, windverwaaide hare.

Heel duidelik is sy nie een wat haar hoop op tegnologie vestig om die ouderdom te keer nie. Sy is heel gemaklik en tevrede met haar ouderdom en haar beroep as leier argeoloog, haar passie. Tyd en veral die verlede fassineer haar. Dis immers die rede hoekom sy reeds vir baie maande met ’n klein span argeologiese studente hier in die uitgestrekte verlatenheid van die woestyn is.

Haar naam is Horoudé Catrones en sy het iets buitengewoons gevind wat sy met die prinses wil deel.

“Verskoon tog, u hoogheid, maar ons het so pas ’n geheime opening blootgelê. En dit lei direk na die hart van die struktuur. Maar kom ek moet u gaan wys. Dis eenvoudig ongelooflik!” Sy trippel rond van ingehoue opwinding.

Prinses Luthare glimlag vriendelik. Sy hou van die gemoedelike Horoudé. Jy kan nie anders as om ook deur haar passie aangesteek te word nie.

Sy knik haar kop: “’n Verseëlde opening? Hoe lyk dit, Jakut? Stel jy daarin belang om ’n grafkelder te aanskou? Dalk leer ons meer oor wie die eerste inwoners van hierdie verlatenheid was. Dalk is die verlore grafkelder ’n aanduiding wie die voorlopers van die Jagters was.”

Sy probeer sy aandag aflei. Sy gedagtes fokus op die oomblik sodat die las van die morbiede donkerte wat sy in hom aanvoel, verlig kan word. Sy neem sy hand en trek hom agter haar aan. Indien die verhouding tussen die Halfbloed en die prinses vir Horoudé iets vreemds is, laat sy niks blyk nie. Sy stap vinnig en babbel opgewonde.

“Ons het aanvanklik gemeen dat hier ’n hele nedersetting was, maar ons was verkeerd. Ek het dit lank reeds vermoed, veral in die eerste paar maande toe ons geen beendere of artefakte opgespoor het van moontlike lewe wat eens hier was nie. Hierdie hele area, Prinses, is een groot monument.”

Prinses Luthare frons: “Wat bedoel jy Horoudé? ’n Monument vir wie?”

Horoudé lag geheimsinnig: “Wag tot u dit sien, Prinses. Ja waarlik, hierdie fonds gaan al ons bevindinge op hulle kop keer! Dit gaan ’n opskudding veroorsaak.” Haar gelaat verkreukel toe sy die frons op die prinses se gelaat opmerk. Vinnig lei sy hulle deur die mengelmoes van ’n groot aantal biosfeer eenhede. Koepelvormige eenhede wat dien as leefkwartiere, navorsingsentrums, bergplek vir voorrade, water en voedsel. Elkeen opgerig vir ’n spesifieke doel. Aan die verste punt van hierdie eenhede is die klein platform waarop die Vector tuig neergestryk het.

Dit dien ook as die stoorplek en tegniese depot vir twee Duine Kruipers. Klein, maar goed toegeruste vaartuie, wind aangedrewe deur groot waaiers aan die agterkant.

Dis hier waar Jakut die meeste van sy tyd die afgelope paar dae deurgebring het. Hier het hy, luitenant Katara en Vandalo geswoeg om die Vector tuig te herstel. Hy het nie die tegniese kennis van sy nuwe vriende nie, maar ’n sterk hand en arm is altyd nodig. Maar dit was nie die enigste rede nie. Hier was dit stiller, nader aan die eensaamheid van die woestyn. En Jakut kon tyd vind om te dink.

Maar nou het Horoudé hulle kom wegsleep na die uitgrawings hier onder ’n reuse duin aan die ander kant van die kompleks. En dis hier waar haar span studente die afgelope paar maande onverpoos geswoeg het om die reuse struktuur te ontbloot.

’n Struktuur in die vorm van ’n gesig. ’n Verweerde gelaat wat op sy rug lê en staar na die dieptes van die onbekende ruimte. Die gesig is nie gebou uit rotsklippe van die omgewing nie. Dit is ’n soliede eenheid van ongekende digtheid en bestaan uit vulkaniese rots wat diep uit die planeetkors, die hartkamers van Kazdan verwyder is.

Maar wie het oor die tegnologie beskik om dit te doen? Hierdie struktuur is meer as vyfduisend jaar oud. In daardie stadium was die inwoners van Kazdan nog gebonde tot die oerwoude en enkele eilande ver weg in die tropiese, suidelike halfrond.

Jakut het nie veel erg aan die ontdekking nie. Vir hom is dit net nog ’n onsinnigheid waarmee die Vreemdelinge hulle tyd verwyl. Selfs prinses Luthare en die ander is slegs gefokus op die stryd waaruit hulle ontvlug het en die hernude pogings om die Heilige Stad veilig te bereik.

Daar is nie veel ag geslaan op die werksaamhede van Horoudé en haar span nie. Maar soos wat hulle nou luister en meegesleur word deur die opgewonde gebabbel van Horoudé, hoe meer kom hulle onder die indruk dat hier iets groots gevind is.

En Horoudé stel nie teleur nie. Triomfantlik beduie en verduidelik sy die ontdekking van die vreemde ingang. Weke lank het sy met skandeerders die digtheid van die rots ondersoek. Klankgolwe en laser tegnologie ingespan om enige openinge of leë holtes bloot te lê. Op soek na die rede vir die blote bestaan van hierdie eienaardige struktuur. ’n Eensame gesig in die middel van die woestyn.

Teen die voet van die reuse duin steek sy vas. Voor hulle is die onderste gedeelte van die gesig blootgelê. Daar is die ronding van die ken, die begin van ’n skraal gelaat. Hoog bo is die keep tussen smal lippe en dan ’n gedeelte van ’n skerp neus.

Die res is nog onder die duin verborge. Vir die eerste keer bestudeer Jakut werklik die vreemde struktuur. Die donkergrys rotsklip. Die gladde rondings. Geen teken van blokke of skerp punt toerusting om daardie gladde gelaat te vorm nie. Dis werklik aangrypend en terselfdertyd ietwat ontstellend.

Hy frons. Die bekende koue vingers van die innerlike donkerte het skielik aan sy hart kom vat. Hy voel die onrus in hom, die ongemak.

Hy luister met ’n halwe oor na Horoudé, want sy aandag word skielik afgelei deur ’n jong Neanietiese meisie wat opgewonde vir hulle wink. Sy is by die onderpunt van die oor en dit is hier waar die opening gevind is.

“Prinses, dit is hier waar dinge werklik interessant word. Ek het hierdie struktuur oor en oor gefynkam met die beste tegnologie tot ons beskikking. Die antwoord was altyd dieselfde. Dis solied. Maar kort na u aankoms, ja sekerlik binne die eerste paar dae, het ons ’n deurbraak gehad. Dis asof die molukulêre samestelling van die rots daar by die oor verander het. Ja ek weet dit klink ongelooflik, maar dit is waar.

Waar dit eers solied was, is daar nou ’n smal opening met ’n steil afdraande kliptrap, sowat twintig meter diep onder die struktuur in. En u sal nie glo wat ons daar gevind het nie.”

Horoudé knik opgewonde haar kop. Die grys hare, droog en dor weens die volgehoue blootstelling aan die skadelike elemente, val oor haar gelaat.

“Ek kan dit eenvoudig nie begryp nie! Nietemin, dit wat ek u wil wys, is daar binne.” Sy stap na die jong meisie, wat hulle met ’n gelaat vol stof en sand, glimlaggend inwag.

“Prinses Luthare!” roep sy opgewonde, “u moet dit sien!”

Prinses Luthare lag: “Ja, ja ek hoor dit nou reeds vir geruime tyd. Nou toe, Horoudé. Stap jy voor.”

Die jong student staan opsy en prinses Luthare met Horoudé aan die voorpunt druk deur die smal opening in die soliede rots. Jakut loer na die bloedjong Vreemdeling meisie. Sy is uitgerus in ’n grys oorpak, of dalk was dit eens op ’n tyd wit, maar nou is dit verweer deur die sand en son. Sy skuif haar stofbril weg en twee helder blou oë lag in syne.

Vir ’n vreemde oomblik dink hy aan die warm gelaat en donker, smeulende oë van Aria. Hy onthou die kommer in haar oë die laaste keer toe hy daarin gekyk het. Hoe oneindig ver en hoe lank gelede voel dit nie nou nie. Met die gevoel van naderende onheil, volg Jakut stadig agter die prinses, die dieptes in.

1 thought on “Lusmaker – Die Jagter Kronieke: Skemer Oorlog

Comments are closed.