Lusmaker – Engel van die Nag

ENGEL VAN DIE NAG – EBEN VAN RENEN
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)

Eben van Renen - Engel van die Nag

2014 - Engel van die Nag

DEEL 1

TOE Bernie bykom, hang hy onderstebo met ʼn ontplooide lugsak wat teen sy gesig druk. Aldus, dis waar hy dink hy homself bevind, want sy kop draai van die alkohol en die chaos.

‘Nee, ou maat, ek dink jy het genoeg gehad,’ sê die kroegman.

Wat is sy naam nou weer? Skallie? Skollie? Sekerlik een of ander plattelandse bynaam wat vanaf koshuisdae aan die reus met die harige voorarms bly kleef het.

Bernie kyk om hom rond, maar dadelik skiet daar ʼn pyn al langs sy nek op.

Shit, ek het my nek gebreek!’ dink hy, maar sy verwarde verstand kom tog agter dat hy sy voete en hande kan beweeg.

Ietwat.

Die BMW is om hom opgefrommel. En dit vat een moerse ongeluk om ʼn 7-reeks BMW só te laat lyk.

“Luish-ter, ou maat. Skink en bly liewersh shtil,” antwoord hy en stoot sy glas weer oor die klam en taai houtblad voor hom.

Hy is vaagweg bewus daarvan dat die kroegman hom opweeg.

“Kyk,” sê Bernie en leun ietwat wankelrig oor die toonbank sodat hy die groot man voor hom kan aangluur. Bernie Kotze word nie maklik geïntimideer nie. “Ek kan my drr-ank vat. Ek kan my vrr-ou en haar vrr-iendin vat. En ek kan jou werr-k vat. Shkink.”

Nog ʼn oomblik van stilswyende huiwering, en die kroegman skink. Bernie grinnik en sak weer in sy stoel terug. Die hitte loop soos goue vuur deur sy are. Sy kop…

Shit!” Bernie probeer sy hand by sy oë kry, maar sy hande sit albei vasgepen. Sy oë begin skielik vreeslik brand. Die vloeistof wat daar inloop, loop ook binne sy mond. Bloed.

Dit is so hels donker…

Hy swaai om op sy stoel en val amper af. Met die laaste greintjie waardigheid wat hy nog kan bymekaarskraap, probeer hy weer sy sit kry. Hy beskou die paar mense wat nog dié tyd van die nag in die kroeg kuier. ʼn Paar kyk weg. Hulle het hom natuurlik die hele tyd dopgehou, besef hy gelate. Dis goed. Dit is Bernie se aand vanaand. Soos elke blerrie Vrydagaand. Dis net jammer dis op Put-Sonder-Vroue se kroeg.

Iets vang sy oog. ʼn Sigaret wat in ʼn donker hoek van die kroeg aangesteek word. Vir ’n sekonde het die vlam van die aansteker ʼn figuur in die duisternis laat flits. Al die tafels en stoele naby daardie hoek van die kroeg is leeg. Almal sit een kant – weg van die man. Bernie se benewelde verstand kan net motorfiets stewels en ʼn swart reënjas uitmaak.

En wit hare.

Lang wit hare.

Vir net daardie paar sekondes van kyk word dinge in die kroeg omgekeer vir die besigheidsman van die Goudstad. Die mense in die kroeg vermy daardie hoek vir ʼn rede…

Lig… daar is ʼn liggie wat flikker.

‘Iemand moes my gesien het,’ dink Bernie. Die liggie moet afkomstig wees van iemand se flitslig of…

Maar Bernie ruik skielik ʼn reuk wat ʼn ander storie vertel. Die liggie kom van ʼn vlam af.

“Nee!” roep hy uit. “Nee! Ek kan nie verbrand nie! Nie so nie!”

Skielik staan daar iemand langs die wrak. Bernie draai sy kop stadig om, want elke sentimeter beweging wat sy nek uitvoer is ʼn foltering.

“Help… ek sit vas… shit…”

Stewels. Motorfiets-stewels en ʼn swart reënjas.

Bernie swaai terug na die kroegtoonbank. Hy voel naar. Dit kan die alkohol wees. Dit kan ook die manier wees wat die skim in die hoek van die kroeg hom laat voel het. Hy kan dit nie verklaar nie, maar skielik het die gees, die lekker-Vrydagaand-gees, hom heeltemal verlaat. Hy kyk skielik onseker op en sien hoe die kroegman ook oor sy skouer kyk. Hy sien dieselfde vrees daar. Die gevoel begin agter sy rug opbou, asof die donker vreemdeling reg agter hom staan, met sy swart oë deur sy baadjie tot binne sy hart deurboor.

Shit,” mompel hy en staan op. Hy strompel by die deur uit sonder om nog iets te sê. Hy kyk nie weer na die donker hoek nie. Hy wil net uitkom. “Shit,” sê hy weer toe hy buite kom en die koue lug hom vang. Die vars lug laat hom selfs dronker voel.

“Jy lyk soos ʼn Drink-en-bestuur advertensie,” sê die stem.

Kalm.

Koud.

Bernie kan nie die man se gesig sien nie. Daar is twee wit hande wat oor die gehurkte knieë vou.

“Asseblief…” fluister Bernie, maar vandat hy die stewels gesien het, het hy geweet hy sal geen hulp kry nie. Al waarvoor hy nou hoop is ʼn bietjie tyd en hope geluk, sodat iemand anders ook op die toneel kan opdaag.

Die man gaan sit op die pad. Sy bene word kruisbeen getrek en hy rus sy ken op sy vuis.

Bernie het vinnig weggekyk, maar die gesig is ingebrand in sy verstand. Wie sou kon dink die Dood is aantreklik en verskriklik? Die wit vel is oor sterk wangbene en hoekige ken gespan. Die oë is gitswart, sonder wit. Die hare is reguit tot op die skouers en spierwit.

Die oë, dít het Bernie laat verstaan. Laat verstaan dat hy vanaand gaan sterf op ʼn plattelandse pad, langs ʼn demoon.

Die vreemdeling begin ’n eienaardige deuntjie fluit.

Bernie trap die versneller weer plat en die BMW se bande skreeu – selfs in tweede rat. Hy het weereens die verkeerde afdraai geneem, maar hy is redelik seker dat hy nou op die regte pad is. Alles is so donker, en die paaie se borde is wydverspreid. Bernie kan ook nie die gevoel afskud dat hy homself in een of ander tipe doolhof bevind nie. ʼn Doolhof wat hom keer op keer verby die kroeg lei. Hy kan sweer hy het al drie keer verby dieselfde kroeg gery. Hy kom net nie weg nie.

Bernie se hande begin bewe op die stuur.

“Sjhit boet,” mompel hy. “Get a grip, ou pêl.”

Sy linkerhand sak af na die stoel langs hom. Dit vat-vat daar rond totdat dit die nek van ʼn brandewyn bottel ontdek. Skielik tref die BMW ʼn enorme slaggat, en Bernie laat val die brandewynbottel sodat hy die BMW weer met alle geweld op die pad kan terugdwing. Die Duitse motor kom vinnig weer reg en Bernie slaak ʼn sug van verligting. Dit duur egter nie lank voor sy tong oor sy droë lippe begin lek nie. Na ʼn minuut tas hy weer rond vir die bottel, maar dit het van die passassierstoel geval tot op die kajuit se vloer. Bernie vloek weereens, maar besluit om tog maar die kans te waag. Hy buk vooroor en strek na die bottel uit. Dit bly uit sy hand gly. Die stemmetjie wat skreeu dat hy dadelik moet opkyk of hy nog op die pad is, word afgesny deur die opwinding wat veroorsaak word toe sy vingers uiteindelik die bottel se nek goed beetkry. Toe kom hy vinnig orent, maar dit was te laat.

Reg voor hom in die pad is daar ʼn helder lig. ʼn Enkele lig, soos dié van ʼn motorfiets. Die motorfiets is op hom. Bernie het egter nie kans om te dink nie, net om te reageer.

Bernie pluk sy stuurwiel regs. Te vinnig…

Sy bene is besig om warm te raak.

“Asseblief…” prewel hy weer.

“Sjj…” fluister die man. “Hierdie is spesiale oomblikke, moenie dit met woorde bederf nie.”

Hy steek ’n sigaret aan en die rook ontsnap soos stoom by sy neusgate uit terwyl hy rustig vir Bernie sit en staar.

Bernie Kotze, bobaas besigheidsman van die Goudstad, begin saggies, knersend, huil.

ʼn Paar minute later weerklink Bernie se gille, bo die geknetter en geklap van die vlammende wrak en oor die stil bossies van die Karoo.

Soos die man weer op die monster van ’n motorfiets, ’n Duitse GMA Twintrax, klim, verhelder sy oë tot die witte weer wit is. Sy irisse bly egter pikswart. Hy steek nog ’n sigaret aan na hy die GMA aanskakel en kyk terug na die helder brandstapel agter hom.

Oomblikke daarna skiet hy oor die pad, sy Twintrax wat die stilte verdryf so ver as wat hy gaan.

Die vuur smeul soos ’n Viking-begrafnis.

’n Man en ’n vrou tree skielik binne die ligkring van die dansende vlamme. Hulle dra lang, swart jasse wat tot by hulle kuite hang. Die man is kaalkop en daar is ’n staalkleurige simbool aan die kant van sy kop getatoeëer. Die vrou is fyn gebou maar loop met die selfversekerdheid van iemand wat weet hoe om moeilike situasies te hanteer. Haar hare is wit, met ’n effense blou skynsel en sy veeg een van die slierte geïrriteerd uit haar gesig terwyl sy na die wrak staar.

“Waarom is ek uit my sending gehaal? Wat doen ek hier?” vra sy met meer as ’n tikkie verwyt wat haar stem inkleur.

Die groot man kyk rustig om hom, tot hy bo die vlamme na die sterrehemel staar.

“Ek weet nie, Sentori. Miskien omdat hierdie sending belangriker is. ’n Dienaar moet – per definisie – vrede maak met die Weg, asook die Orde wat ons langs die Weg stuur.” Dis asof daar ’n groot hartseer in sy stem vasgevang is. Hy kyk onderlangs na Sentori, maar sy is te opgevang in haar eie gedagtes om veel notisie te neem. “Maak nie saak hoeveel kinkels en draaie in die Weg vir ons lê en wag nie.”

Sentori maak haar oë toe. Wanneer sy dit uiteindelik oopmaak lyk dit asof sy ’n mate van selfbeheer herwin het. Sy kyk vlugtig op na die sterre voor sy weer praat.

“So, Elai, wanneer gaan ons vir Akillian inbring?” vra die vrou, met haar arms gevou.

Elai neem twee treë vorentoe en hurk op die teerpad. Hy plaas sy regterhand plat op die pad neer en maak sy oë toe.

“Dit gaan nie so maklik wees nie, Sentori,” antwoord hy uiteindelik.

Hy maak sy oë weer oop en kom orent.

“En hoekom nie?”

“Ek sien uit na die dag wanneer jy jou dossiere sal bestudeer. Om die tale te leer is nie genoeg nie.”

Sentori lag. Dit is ’n musikale lag, soos die van ’n soprano – ’n prima donna daarby.

“Ek is meer een vir die praktiese sy van ons roeping.”

Elai glimlag nie.

“Ons kan nie net vir hierdie rebel inbring nie. Akillian is nie nét nog ’n rebel uit ’n agterwêreld of werklikheid nie. Hy is veel sterker as die ander. Hy het ander kragte waarmee ons rekening moet hou.”

Sentori trek haar skouers ongeërg op. Sy loop vorentoe, tot binne die vlamme van die wrak, sonder dat ’n haartjie op haar beeldskone kop verskroei. Sy buig vooroor en loer binne die vlamme van die BMW se binneste.

“Hulle is darem broos, hierdie mense. En hulle lewe meestal minder as ’n eeu, sê jy?” Sy lag weer en stap na hom toe terug. Haar geel oë gloei soos die metaal agter haar wanneer sy na Elai opkyk. “Wat is die punt? Hoekom kom jag hy hier? Wat is so fantasties van hierdie spesie as hulle in elk geval sulke kort lewens het?”

“Dis juis die punt, Sentori. Kort lewens. Hierdie wesens vrees die dood omdat hulle nooit ver van die dood af is nie. Ek dink Akillian geniet hulle vrees. Baie van die ouer spesies van die ander wêrelde baklei nie so hard vir oorlewing soos hierdie mense nie. Daar is sommige vir wie die dood, na ’n lewe van duisende jare, ’n ontvlugting is. Nie hierdie mense nie.”

Sentori frons.

“Ek skat dit maak sin,” sê sy later. Sy knik in die rigting van die pad waar Elai kort vantevore sy hand geplaas het. “Wat kon jy aanvoel?”

Elai vryf sy hand oor sy kop. Hy kyk om hom. Sy eie geel oë kan baie ver in die donker sien. Hy is verbaas oor die verskeidenheid lewe om hulle. Selfs in hierdie dor streek kan hy baie lewensvorms optel.

“Sy chaos-afdruk is enorm. Hy is te sterk vir die twee van ons.”

“Jy speel seker,” fluister Sentori.

“Ek speel nooit. Jy behoort dit teen hierdie tyd te weet.”

“Hoe is dit moontlik? Hoe kan ’n rebel sterker as twee dienaars word?”

“Ek dink hy het ’n manier gevind om hulle vrees as energie te gebruik. Hy is besig om sy Chaos te voed met hulle doods-oomblikke, hul doodskrete. En dit is nie die ergste nie.”

Sentori bly net staan.

“Ek dink hy wil hier bly. Hy wil hierdie wêreld sy eie maak. Hy is verslaaf aan hulle lyding en soos alle verslaafdes wil hy naby sy dwelm-voorraad bly.”

“Maar… maar hy moet tog weet dat dit die balans sal versteur. Dis nog nooit gedoen nie!”

“Sy chaos is so buitensporig dat ek nie eens dink hy gee om nie. Hy wil sien wat gaan gebeur as hy nie die wette gehoorsaam nie. Hy kan die een wees wat die mure laat intuimel.”

Sentori draai stadig om. Die stadige, ysige Karoo-briesie beweeg ’n paar slierte van haar sneeu-hare oor haar gesig. Haar oë het ’n vêraf kyk.

“Hoe gaan ons hom stop?”

“Ons gaan nie.”

Sy draai stadig om na hom toe.

“Ons gaan nie?”

“Nee, ons kan nie. Hy sal ons waarskynlik kan vernietig en dan sluk hy al ons krag ook in. Met al daardie mag sal hy werklik ’n god wees. Nee, ons kan nie – as dienaars – hom aanvat nie. Dit sal ’n mens moet wees wat dit doen.”

“Onmoontlik.”

“Miskien.”

“Wat bedoel jy.”

“As ons die regte mens kies vir die taak, iemand wat nie die dood vrees nie. Iemand met ’n gewete, ’n goeie mens. Iemand wat alles verloor het. Ons gee vir hom die mag van ’n dienaar, in die hoop dat as hy verloor hy nie sy krag vir Akillian sal kan oorgee nie.”

“Omdat hy nie die dood vrees nie?”

“Korrek. Daar is ’n kans dat ’n mens met dienaarmagte selfs sterker as ons kan wees.”

“Jy praat van ’n vervangbare soldaat. Die enigste probleem is dat ’n dienaar se mag net op twee maniere oorgedra kan word: deur eeue se opleiding of deur die dood. En dis nog nooit met ’n mens gedoen nie. Daar kan steurings… nagevolge wees.”

“Miskien nie ’n probleem nie, net ’n uitdaging.”

Skielik sak Elai neer op die pad. Sy knieë en hande probeer sy groot liggaam stut.

“Elai!”

Elai sak verder vooroor, maar Sentori is gou by hom en probeer die groot lyf omrol sodat sy kop op haar skoot rus.

Elai se oë maak stadig oop.

“Die prys is betaal.”

“Nee! Elai, jy kan nie sommerso… Elai!”

Elai se oë begin stadig toesak. Sentori voel hoe hy ligter raak. Die drukking van sy kop en skouers word al hoe minder op haar skoot. Hy is besig om haar te verlaat.

“Ek het goed gekies…”

“Elai… jy kan nie! Jy is die grootste dienaar! Ons het jou nodig! Dit moes ek gewees het!”

Elai glimlag. Sy oë is nou toe.

“Jy het ’n ander taak… pas die mens op… wys hom… hy is baie… stukkend…”

Elai begin deurskynend raak.

“Elai…” fluister Sentori, haar stem is hees.

“Elai…”

“Anton… Myburgh… Melkbosstrand… hy het… miskien ’n kans…”

Uiteindelik kyk Sentori af op haar eie bewende hande. Haar mentor van twee eeue het haar verlaat. ’n Leegheid trek saam met die Karoo-briesie regdeur haar.

Sentori sit alleen terwyl die vuurgloed agter haar ’n eensame skadu op die pad laat ronddans.

2 thoughts on “Lusmaker – Engel van die Nag

Comments are closed.