M01E02 – 2014 © Joe Botha

Oefening 1.2

Uit die onderskeie genres van WF is dit duidelik dat hulle soms moeilik onderskeibaar is. Trouens, ek sal verbaas wees as enige voorbeeld van ’n WF-roman netjies in een kategorie pas. Kuberpunk-WF speel hom byvoorbeeld gewoonlik af in die Nabye Toekoms, Ruimteverkenning is onafskeidbaar van Kolonialisasie, en Sterwende Aarde-SF is per definisie Aardse WF.

Ek glo ’n sappige WF-roman moet tot so ’n mate aandag gee aan die heelal waarin hy hom afspeel dat dit elemente uit heelwat van die genres insluit. Ek wil amper sê soveel as moontlik van dié wat versoenbaar is.

In enige klassifisering van roman wat in ’n veronderstelde subgenre val, moet ’n mens dus waak daarteen om elemente van ánder genres by sodanige beskrywing van die seminale werk in te sluit, al is hulle dan ook in die voorbeeld-roman teenwoordig. So sal ’n mens byvoorbeeld nie Iain M. Banks se Culture-romans as Galaktiese Ryk-SF beskryf nie, al is die reeks vernoem na die veronderstelde “ryk”. Hoewel talle wêrelde in dié heelal hulle met die Culture vereenselwig, is die de facto-heersers van die Culture – die Minds in hul ruimteskepe, Rocks en Rings – elk ’n vry agent wat nie verantwoordbaar is nie.

Die mees interessante onderskeid is vir my die een tussen Harde en Sagte WF, omdat dit op twee semantiese vlakke gedoen word. Om die twee as teenoorgesteldes te kategoriseer is problematies! Kom ons kyk na elk.

Harde WF:

Harde WF uit die ou skool berus op streng wetenskaplike ekstrapolasie van bekende tegnologieë en natuurwette. Dit is innig verbind met die stand van moderne begrip van dié tegnologieë en wette.

In ’n Harde WF-roman word die gebeure in die verhaal aangepas om wetenskaplike beginsels te akkommodeer eerder as andersom.

Samelopend hiermee is die inhoud sonder afwyking gegrond in natuurwetenskappe soos Fisika, Skeikunde, Biologie en Geologie. ’n Mens sou verwag dat die outeur van ’n Harde WF-roman uit een van dié velde kom. Indien nie, sou ’n mens kan aanneem dat hy of sy baie hard en lank navorsing gedoen het om die wetenskaplike inhoud korrek en sonder teenstrydighede te kry.

Sentrale idees in Harde WF:

  • Die wetenskap en tegnologie bestaan werklik, of is oortuigend van huidige teorieë afgelei. (voorbeeld: toegevoegde realiteit in Vernor Vinge se Rainbow’s End)
  • Die wetenskap en tegnologie word toegepas om ’n menslike probleem op te los. (voorbeeld: die veraardsing van Mars in Kim Stanley Robinson se Red Mars)
  • Die teoretiese limiete van ingenieurswese mag nie oorskry word nie. (voorbeeld: die Beanstalk-ruimtehysbak in Arthur C. Clarke se The Fountains of Paradise)
  • As daar wel van natuurwette afgewyk word, word die afwykings verduidelik met beginsels wat minstens in teorie moontlik kan wees. (voorbeeld: die wurmkolke in Dennis Meredith se Wormholes: A Novel)
  • As daar van natuurwette afgewyk word, moet alle voortvloeiings en afleidings daarvan konsekwent wees om wetenskaplike juistheid te behou. (voorbeeld: die Primer in Neal Stephenson se The Diamond Age)
  • Soos enige wetenskaplike publikasie of artikel stel Harde WF hom oop tot portuurbeoordeling deur lesers. (voorbeeld: die wentelbaanprobleem in Larry Niven se The Ringworld Engineers)

Verteenwoordiger van die subgenre

’n Goeie verteenwoordiger van dié subgenre is Poul Anderson se meesterwerk Tau Zero, waarin die resultaat van tydvertraging teen relativistiese snelhede op wetenskaplike wyse voorgestel word en absoluut sentraal tot die gebeure is.

Sagte WF:

Waar Harde WF ’n toepaslike streng aanslag het op sy eie grondbeginsels, is Sagte WF toepaslik minder streng. Die versoeking is om te sê Sagte WF is “die res” van die subgenres, met ander woorde, alles wat nie Harde WF is nie. Dit sal egter nie korrek wees sonder om te identifiseer op watter semantiese vlak die onderskeid getref word nie.

Vlak 1 is maklik genoeg: As die teks elemente bevat wat nie strook met die huidige wetenskaplike begrip van natuurwette nie, is dit Sagte WF.

Vlak 2 is meer problematies. Dit berus op die onderskeid wat sedert die 1970’s gemaak word tussen natuur- en sosiale wetenskappe. In Engels spruit dit uit die onderskeid tussen hard science en soft science. Vandaar hard science fiction en soft science fiction. Waar Harde WF fokus op noukeurige, meetbare, empiriese kennis van natuurlike verskynsels, ondersoek Sagte WF die sosiale wetenskappe: Antropologie, Geskiedenis, Sosiologie, Sielkunde en dies meer.

Op dié vlak van onderskeid is daar niks wat verhoed dat ’n Sagte WF-teks aan dieselfde streng wetenskaplike standaarde van Harde WF voldoen nie. Dienooreenkomstig kan ’n Harde WF-teks ook die menslike kondisie ondersoek.

Sentrale idees in Sagte WF:

  • Die fokus is op die sosiale en/of maatskaplike milieu, ongeag die vlak van akkuraatheid van die gekose wetenskaplike modelle. (voorbeeld: die sosiale impak van alomteenwoordige waarneming in George Orwell se Nineteen Eighty-Four)
  • Pseudowetenskaplike modelle is toelaatbaar as dit die enigste manier is om ’n sekere menslike kwessie te ondersoek. (voorbeeld: telepatie in Alfred Bester se The Demolished Man)
  • Fantasie-elemente gebaseer op onbekende tegnologie, biologie en fisika. (voorbeeld: die ruimteskip/kunsmatige sonnestelsel/KI Chalco-Doror in A. A. Attanasio se The Last Legends of Earth)
  • WF-elemente word gebruik om ondersoek in te stel na politieke, kulturele of ander kwessies in die samelewing. (voorbeeld: die androgene mens in Ursula Le Guin se The Left Hand of Darkness)
  • WF-elemente word gebruik om ondersoek in te stel na filosofiese of morele kwessies. (voorbeeld: Griffin se moraliteit in H. G. Wells se The Invisible Man)

Verteenwoordiger van die subgenre

’n Goeie verteenwoordiger van dié subgenre is Frank Herbert se meesterwerk Dune, waarin hy die wetenskaplike inhoud bewustelik op die agtergrond geskuif het om te fokus op persoonlike, politieke en ekologiese kwessies.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui