M01E1 – 2016 © Tanita da Silva

Oefening 1

Wetenskapfiksie berus op wetenskaplike feite of veronderstellings wat in fiksie verander. Dis ʼn nuwe manier om ʼn ou storie te vertel met die ‘wat as’-vertrekpunt. Fiksie van die toekoms wat die onmoontlike moontlik maak.

Oefening 2.1

Langenhoven se Loeloeraai (1923) het gewerk omdat dit ook humoristies was. Dis Afrikaans se eerste wetenskapfiksie boek. ʼn Ruimteskip, in die vorm van ʼn goue eier, land op Vroutjie en Kerneels se huis in Oudtshoorn. Loeloeraai maak sy verskyning. Voordat Loeloeraai later die aarde verlaat, neem hy sy ‘aardsvriende’ vir ʼn uitstappie maan toe.

In Liefde in die ruimte (1998) deur Ilse Steyn word Trumi van der Walt na twee eeue in vriesslaap in die drie-en-twintigste eeu wakker. Die aarde is nie meer dieselfde nie. Die vonke spat behoorlik in die ruimte.

Wetenskapfiksie is op huidige of toekomstige wetenskaplike, mediese en tegnologiese spekulasies gebaseer. Daar is ʼn magdom sub-genres. Wetenskapfiksie vir tieners is vol gepak met avonture. Dit moet hulle verbeelding aangryp en temas aanraak wat die tieners raak. Dit kan in die ruimte of enige ander wêreld afspeel.

In Sending na planeet 55-7: Die Artaarse koffiekrisis geskryf deur Yvonne Botha (1996), verloop dinge vir die hoofkarakters nie volgens plan nie. Die ergste is wanneer hulle ʼn magsugtige towenaar ontdek wat die heelal wil verander. Hulle het enkele ure om die heelal te red. Sias se ruimtetuig is ʼn Afrikaanse toekomsverhaal wat deur Mikro geskryf is. Dit maak deel uit van Sias en Mias-reeks. Die hoofkarakter, Sias, se planne laat ʼn onskuldige avontuur in ʼn nag van angs en verskrikking en ʼn botsing met die gereg ontaard. En dan is daar die gevaarlike ontdekkingsreis na die maan in sy nuwe ruimtetuig, Colombia.

Vyffff is ʼn ruimtefantasie geskryf deur de Waal Venter (1988). Dis vol onverwagte humor en spanning, ook liefde en geweld. Die groen planeet is ʼn wetenskapverhaal deur Jan Rabie (1961). Hier word die mens se oorlewingsmoontlikhede op ʼn ander planeet getoets. Die skrywer het goeie kennis van die wetenskap. Hy bou later verder self verder aan die wetenskap. Saad van onheil deur G.J. Combrink word beskryf as een van die ‘pakkendste spanningsverhale’ vir die jeug.

In Bestemming Xenos deur Helena Hugo (1980) ontmoet Annelida, die ongelukkigste meisie op aarde, Doran van die planeet van die planeet Xenos. Sy vaar die ruimte in saam met Doran en die robotte. Hulle word gevange geneem. Hoe gaan hulle sonder ʼn ruimteskip by Xenos uitkom?

Die Hart van Zeebak deur Martie Preller (2004) is ʼn boeiende wetenskapfiksie verhaal. Ferdinand, pas klaar met sy matriekeksamen word deur Leandra, ʼn inwoner van Zeebak, na ʼn ander dimensie ontvoer. Daar kom groot onsekerheid in hom. Hy kry nagmerries, ʼn robot volg hom en Leandra steek iets vir hom weg. In die tyd van Esob (1996) deur dieselfde skrywer se gebeure vind in ʼn surrealistiese werklikheid af waar ook die goeie die slegte oorwin.

In die Nova-reeks deur Fanie Viljoen is dit van die begin af duidelik dat alles nie pluis op die weermagdorp, Nova, is nie. Vir Lucas en sy vriende word die raaisels net meer. En dan is daar die geheimsinnige ruimteskepe. Die Nova-reeks is boeke oor tieners wie se paaie met ruimtewesens kruis. Daar kom later duidelikheid oor hoekom dit gebeur.

Oefnening 2.2

Wetenskapfiksie word dikwels beskryf as die literatuur van verandering. Soos ʼn kultuur verander vanweë wetenskaplike vooruitgang en tegnologiese ontwikkeling, word diè fiksie ook by ʼn ewigveranderde wêreld in- en aangepas.

Wetenskapfiksie begin waar die wetenskap eindig. Van daar af moet die skrywer bou en bou op die bekende. Wat ek as skrywer nodig het, is pen, papier en verbeelding. Natuurlik is ʼn biblioteek en internet nodig, want navorsing is die voorloper van wetenskaplike idees wat nuwe stories inspireer. Skrywers moet dink aan iets waaraan niemand nog tevore in daardie vorm gedink het nie. Dit moet die skrywer self prikkel tot navorsing. Om vir die jonger leser te skryf, moet die skrywer weet wat die inding onder die jonger geslag is. In wetenskapfiksie word die reëls gebreek. Dit moet ʼn duidelike en relevante tema hê wat die leser wil raak lees. Wat gebeur as die ster in die klas, se pen (wat al die antwoorde ken), in dom Jan se hande beland? Of as die man in Mars sy balans verloor en op die bodem van die aarde beland?

Die karakters kan enige iemand of iets van ʼn gewone mens, dier, robot, ruimtewesentjie of ʼn pratende stoof wees. Gee die hoofkarakter ʼn interessante naam, ewe interessante eienskappe met so paar tekortkominge en foute en blaas lewe in sy lyf. ʼn Paar swakhede sal nie van die held ʼn minder-held maak nie. Gee hom heelwat uitdagings en probleme. Hy moet homself met baie oortuiging daaruit woel. Die ander karakters moet ook geloofwaardig uitgebeeld word. Die begin van so ʼn verhaal moet dramaties, eg en spannend wees. Die leser moet visueel weggevoer word deur die donker tonnel en saam met die karakters die stukkie sonlig deur ʼn gleufie sien en voel. Daar moet slim gebou word op die spanningselement. Na die klimaks kan ʼn valse, gelukkige einde geskep word. ʼn Oop einde werk in die genre, asook gemengde gevoelens aan die einde. “Twist-in-the-tale” eindes werk goed in die genre. Woordkeuses is van groot belang in die verhaal. Noem die man gerus ʼn muis as hy bang is. Iewers in die woordeboek sal ʼn geskikte woord wees. Werk skeppend en kreatief met woordkeuses. Daar is niks verkeerd met bietjie humor in die chaotiese ruimte-verwarring nie. Oortuigende dialoog moet die karakters en verhoudings tussen die klomp komplimenteer.

Wetenskapfiksie is nie net ʼn nuwe manier om ʼn ou storie te vertel nie. Dit is fiksie met ʼn x-faktor. Dis die genre wat dinge wat onmoontlik lyk, moontlik maak. ʼn Soort eksperiment met die werklikheid. “Hoe ver is ver…” “Hoe donker is donker…” Dis die tipe storie waar die karakters, voorwerpe en gebeure ‘vlerke’ kry. Die storie ontwikkel tot op ʼn punt waar die onmoontlike onvermydelik is. Dis dan waar die karakter(s) se werk is om planne te maak en om uit die moeilikheid te kom. Iets moet drasties gebeur. Daar moet behoorlik gekoes en gekeer word, sodat die leser hom of haar kan inleef. Die situasie moet geloofwaardig geskets word. So absurd soos dit ook al mag klink, moet die leser se verbeelding aangewakker word. Die intrige moet kan mislei en skok. Die skrywer moet dis die vermoë hê om die leser se denke te manipuleer. Die onvoorspelbaarheid van die gebeure moet die leser so boei dat hy of sy nie die boek wil neersit nie. Die leser moet op ʼn punt gelaat word waar hy of sy nie die uitkoms kan voorspel nie, maar terselfdertyd vasgenael bly.

Gewoonlik speel die genre in die toekoms af, maar dit mag in die verlede ook afspeel. Daar moet ʼn regte balans tussen die vreemde en die bekende wees. Die leser moet ʼn realistiese gevoel ervaar. Die genre vereis navorsing, veral as dit in ʼn vreemde ruimte afspeel. Om die genre te skryf is om die grense te oorskry. Die skrywer moet kennis toon van wetenskap, tegnologie, virtual reality en verwante onderwerpe. Goeie wetenskapfiksie gaan oor die verbreking van reëls waar alles moontlik is. Navorsers is altyd besig om die wêreld te vernuwe. Dit is die tipe fiksie wat wetenskapfiksie is. Die genre gee toegang vir die leser om heeltemal verby, heel aan die anderkant van die werklikheid te beweeg. Om die volle prentjie anderkant die normale te sien werklik word en dit te glo – hoe onwaarskynlik dit ook al mag lyk. Die leser moet op ʼn rowwe verbeeldingsreis geneem word.

Om na ʼn paar van die sub-genres te verwys begin ek met alternatiewe geskiedenis. Tydreise speel hier ʼn groot rol. Dit is gebaseer op die beginsel dat historiese gebeurtenisse moontlik anders verloop het. Harde wetenskapfiksie word gekenmerk deur streng aandag te skenk aan noukeurige en korrekte besonderhede op die gebied van fisika, astrofisika, sterrekunde en skeikunde. Kuberpunk handel oor die hoë-tegnologie in die nie-so-verre toekoms. Die hooftema handel oor die vernietiging van die mensdom. Dis gewoonlik waarskuwend oor die moontlike kwade gevolge wanneer tegnologie in die verkeerde hande val. Onsterflikheid gaan oor mense wat tot hul uiterste sal gaan om hul eie vorm van onsterflikheid te bekom. Robots is ʼn taamlik gewilde onderwerp. Daaruit spreek die ‘wat as’ mense deur meganiese, stoom- en elektriese masjiene vervang word. Net so is ruimtereise gewild. Dit gaan oor die mensdom se reise deur ons eie sonnestelsel of na ander onbekende sterrestelsels, of ʼn ruimtesepie oor ʼn avontuur wat in die ruimte of op ander planete afspeel. Die supermens-sub-genre is ook gewild. Dit gaan oor mense wat die vermoë het van ʼn supermens. Dit kan spruit uit ʼn natuurlike oorsaak, of kan die gevolg van inmenging en manipulasie wees. Aardse wetenskapfiksie is stories wat op of naby die aarde afspeel. Dit maak gebruik van oortuigende tegnologiese en wetenskaplike middele, teorieë en voorwerpe soos dit bestaan op die tydvlak wanneer die storie geskryf is. Katastrofe het te doen met die totale uiwissing van ʼn beskawing deur middel van kernoorlog, natuurramp of enige ander vorm. Post-katastrofiese wetenskapfiksie beskryf die wêreld onmiddelik na die afloop van sodanige ramp. Dit fokus op die oorlewendes. Soms het sodanige oorlewendes alle kennis van die pre-katastrofe samelewing vergeet. Wetenskap fantasie word gekenmerk deur die samesmelting van die wetenskap en die fantasie. Dit bevat toekomstige en tegnologiese elemente, bv. tydreis, ruimtetuie, ens. wat verweef is met fantasie, bv. mitologie.

Wetenskapfiksie vir tieners moet enige jongeling se verbeelding kan aangryp. Dit moet lekker en maklik lees. Geen sterk standpunte of ernstige temas word aangeraak nie. Daar moet elemente van die werklikheid in wees. Alhoewel daar navorsing gedoen moet word, moet die leesstof nie net inligting wil oordra of die ruimteskip in die fynste besonderheid wil beskryf nie. Sterk, oorspronklike karakters is altyd ʼn wenner in die genre, veral as die leser daarmee kan identifiseer.

Die vrae wat ek myself afvra wanneer ek die genre betree: Watter effek het wetenskap en tegnologie op mense? Speel die gebeure in ʼn heeltemal fiktiewe wêreld of heelal af? Verskil die strukture totaal van ons wêreld, en in hoe mate? Wat maak diè karakters so anders dat hulle onder ʼn wetenskapfiksie genre val?