M03E01 – 2014 © Joe Botha

Oefening 1: Verskillende WF-wêrelde

Met Woensdag (12 November 2014) se landing van die Rosetta-sending se Philae-tuig op die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko – en die meganiese weiering wat ’n minder ideale landing tot gevolg gehad het – is dit nogal ’n gulde tyd om komete en die aspekte van so ’n milieu van nader te bekyk. Die doel van die Rosetta-sending is suiwer wetenskaplik van aard en die landingstuig is toegerus met tien gespesialiseerde sensormodules om inligting in te win. Maar gestel ’n wesentlike neerslag van die rare element promethium-145 word daar ontdek, wat vir die doeleindes van ons verhaal aangewend sal word om ’n netwerk van swak, maar uiters duursame interplanetêre Lagrangepunt-merkers daar te stel. Om die skaars element op ’n komeet te ontgin, is om onder andere die volgende redes ’n logistiese nagmerrie:

  • Die komeet is minder as 6km in deursnee en swaartekrag is een honderdduisendste van dié van die aarde, so enige toerusting sal aan die oppervlak vasgemaak moet word. ’n Soort steierwerk rondom die komeet sal dalk aangedui wees, maar die daarsteling daarvan bring sy eie probleme.
  • Daar is geen lewensomstandighede om van te praat nie. Geen aard van lewe sal op ’n komeet kan ontstaan of aanpas nie. Dit noodsaak die eksklusiewe gebruik van mynwese-robots met hul eie kragbronne en wat mekaar in ’n mate kan herstel via afstandbeheer of outonome instandhouding.
  • As personeel wel op Chury ontplooi word, sal dit bes moontlik die vorm van ruimtewandelings moet aanneem wat van ’n moederskip af geskied eerder as van ’n basis op die komeet self.
  • Alle toerusting en personeel sal moet kan funksioneer onder uiterstes van temperatuur. Die temperatuur op Chury wissel van -68 tot -43 grade Celsius, dus, baie gematig vir ’n komeet.
  • Daar is geen atmosfeer nie, so enige toerusting sal teen bestraling bestand moet wees, veral in die tye dat die komeet sy perihelion bereik.
  • Komete het elliptiese wentelbane, wat daartoe lei dat hulle vir lang tye buite kontak sal wees. ’n Mynbou-operasie op Chury sal bes moontlik seisoenaal moet wees.
  • Chury beweeg teen 38km/sek. Sy lae aantrekkingskrag en klein volume maak enige rendezvous met hom baie moeilik.
  • ’n Verandering Chury se massa deur grootskaalse verwydering van materiaal of selfs net die toevoeging van swaar mynboutoerusting kan ’n verandering in sy wentelingstydperk teweegbring. Die verandering sal op sy beurt berekeninge vir toekomstige landings omverwerp.
  • Wanneer die komeet se koma naby die son ontwikkel, kan vloeistof- en gasgeisers met bedrywighede op die oppervlak inmeng op chemiese of meganiese wyse, byvoorbeeld deur bytstowwe wat toerusting beskadig of stof wat op sonkragpanele beland.

Oefening 2.1: Eerste indrukke van vier beelde

Fig. 1: “Apocalypse Please”
’n Distopiese Aarde waarin kernoorlog primaatstede in puin gelê het. In die skielike leierskapsvakuum van die uitwissing van wetgewende gesag blyk militêre heerskappy aan die orde van die dag te wees. Diegene buite die leër doen hul bes om te oorleef en voer ’n wanhopige oorlog teen die nuwe militêre heersers wat eens op ’n tyd hul eie landgenote was. Selfmoord-bomaanvalle deur mense wat weens kernbestraling ’n beperkte lewensverwagting het, is algemeen.

Fig. 2: “Postcards from the Future”
Die kleredrag en haarstyle herinner aan Amerika omstreeks die 1950’s, maar die argitektuur is ’n versmelting van modernistiese en postmodernistiese style. Dit skep die indruk dat dié wêreld in ’n alternatiewe heelal is, dalk een waarin samewerking eerder as oorlog die hooffokus van die twintigste eeu was. Die wêreld skep die indruk van rykdom en vooruitgang, wat dui op ’n Utopiese bestaan in oorstemming met die vermeende naiveté van die 1950’s.

Fig. 3: “Stargate Atantis”
’n Drywende stad op die uithoeke van ’n waterwêreld. Ondanks ses massiewe dokke en ’n dig beboude kern, is daar net een vaartuig wat daar aandoen, wat daarop dui dat die stad afgeleë is. Die funksie van die struktuur is onbekend. Die beboude gebiede herinner aan ’n sakekern, maar daar is geen teken van primêre of sekondêre nywerhede soos droëdokke of prosseseringsfasiliteite om ’n tersiêre ekonomie op te beseer nie. Die enigste logiese afleiding is dat dit deel is van ’n veel groter struktuur wat onder die oppervlak lê, en dat net die superrykes kan bekostig om bo die oppervlak te bly.

Fig. 4: “SF Wallpaper 62”
Dit blyk ’n tegnologies gevorderde navorsingsentrum van een of ander aard te wees. Gegewe die oënskynlike skaal van die asteroïed en die afwesigheid van wapentuig is dit bes moontlik nie ’n militêre installasie nie. Die drie silos aan die ver kant maak grondstofontginning ’n ander moontlikheid, alhoewel geen mynboutoerusting sigbaar is nie. Die asteroïed is te klein om ’n wesentlike gravitasieveld te hê. Ontginning word dus bes moontlik van binne gedoen. Die ringvormige kwartiere dui op die afwesigheid van tegnologie wat swaartekrag kan manipuleer. Die basis is dus in beduidende gevaar van botsings met aangrensende asteroïede – soveel so dat die personeel genoodsaak is om in tuie soos die een in die voorgrond te ontsnap.

Oefening 2.2: Beskrywing van Fig. 3

Heil die Leser!

Ek was die laaste van die Hoofde van Shuǐ-sān.

Die afgeplatte, lewelose watersatelliet, derde en buitenste maan van die gasreus Àodéxiūsī, was in die dae van die Eerste Dinastie van Eksoplanete gebruik as waterverskaffingsbron vir die Kolonie en later die veraardsing van die ander twee planete in die Goldilocks-gordel van die reuse rooi ster Ichthus.

In dié tyd is ’n netwerk van elektromagnetiese teengewigte in wye wentelbane om die maan ontplooi as lugafweerstelsel om inkomende astroïede van koers af te dwing.

Die dag/nag-siklus wissel na gelang van Shuǐ-sān se eie rotasie sowel as sy wenteling om die planeet. Vir sy betreklik lae massa van 2.161E24 kg het die maan ’n stadige rotasiespoed van veertien en ’n half uur. ’n Wenteling om Àodéxiūsī duur sowat elf uur, waarvan vyf en ’n half uur nag is terwyl die planeet die ster Ichthus tydelik versper.

Die dun atmosfeer van helium en ’n bietjie waterstof – ’n oorblyfsel van die wanbalans tussen waterstof en suurstof by die maan se vorming – is normaalweg nie ryk genoeg om die vorming van wolke te ondersteun nie.

Elke 8 634 uur kom die wentelling en rotasie egter tydens sonop sowel as sononder in pas sodat albei nagenoeg met die ondergang van Àodéxiūsī saamval. Dit staan bekend as die Lang Maan. By dié geleentheid absorbeer Shuǐ-sān genoeg son-energie om wel wolke tot gevolg te hê. Omdat die Lang Maan noodwendig met springgety saamval, gaan dit gepaard met skrikwekkende deinings en stormsterk winde.

In die eerste eeu van die Tweede Dinastie het dit selfs sewe keer gereën.

Toe die Kolonie se geweldige stroping van massa die maan se wentelbaan tot so ’n mate verbreed het dat dit aan Àodéxiūsī se ontsnappingsnelheid begin grens, is waterontginning gestaak en in die moeiliker ontginbare asteroïedgordel voortgesit. Die swakker uitwerking van Àodéxiūsī se gavitasieput het die uitwerking van die springgety verlaag, en die laer massa van die maan self het ’n addisionele verlies aan atmosfeer tot gevolg gehad. Dié faktore het omstandighede op Shuǐ-sān meer leefbaar gemaak. Die maan is tot hipotetiese wetgewende, uitvoerende en regterlike hoofstad van die Kolonies verklaar. Die kolonies sou steeds elk hul eie regering hê, maar onder berading van die 1 200 Hoofde van Shuǐ-sān.

Vir dié doel is die Adviesmeuseum ontplooi. Dit is die enigste struktuur op Shuǐ-sān. Die waterbasis dryf soos ’n enkele, massiewe sneeuvlok op die maanoppervlak. Van die ses vertakkings vanuit die sentrale Spil is die drie takke van regering elk twee sektorplate toegesê – een vir die Hoofde se huisvesting en oordenking en een waarin hulle vergader om die gesimuleerde toekomsvooruitskouings van die Spil te ontleed en argumente vir of teen sekere koerse van aksie aan te voer.

Die Adviesmuseum is aan die begin van die Tweede Dinastie vanaf die eerste Kolonie, Xiǎoyán, gelanseer. Die vervorming van die ruimteskip se konfigurasie van ’n ovaal sonder uitwendige kenmerke na dié van ’n stad het ses jaar geduur. Die enjins moes op die nanoskaal in een stuk omvorm word in waterstofreaktors wat die stad se energievereistes sou dek.

Sewe agtstes van die Adviesmuseum is onder die oppervlakte, waar verskeie geslote biome gehuisves word. Elk van die biome vervul ’n gespesialiseerde funksie was analogies is tot ’n orgaan in die liggaam. Die chemiese reaksies van verskillende stowwe, plante en eenvoudige organismes lewer voedsel, suurstof, stikstof, metaan en dies meer om die metabioom van die Adviesmuseum in balans te hou. Afval word afgebreek en deur ’n reeks filters gesuiwer, van waar dit na die regte bioom vervoer word vir hergebruik. Dit verminder die behoefte aan voorraad van die Kolonies tot een of hoogstens twee besoeke per jaar. Die onbemande voorraadtuie plons in die water naby die Adviesmuseum neer, van waar dit met afstandbeheer na een van die ses lugdigte dokke tussen die sektorplate aan die basis van die Spil gestuur word. Die inhoud van elke voorraadskip, sowel as die skip self word gebruik.

Die enigste ander besoekers aan die museum is die skepe wat nuwe Hoofde bring en die oorskot van afgestorwe Hoofde kom haal. Om ’n Hoof te word, moet lede van die onderskeie Koloniale regerings benoem word en hulself dan beskikbaar stel. Die vereistes is hoog – geen Hoof mag van die ruim, dog ingeslote bestaan van die Adviesmuseum terugkeer of regstreekse kontak met sy voormalige familie hê nie. Diegene wat die selfopgelegde ballingskap op Shuǐ-sān aanvaar, word in die algemeen met die grootste respek bejeen, alhowel hul families baiekeer nie hul keuse van hoër diens kan verstaan of aanvaar nie.

Of so was dit voor die Ontseteling gewees. Die massiewe komeet Dàbái 167 het Shuǐ-sān rakelings gemis, maar sy swaartekrag was genoeg om die maan verby Àodéxiūsī se ontsnapsnelheid te neem en uit sy wentelbaan om die planeet te slinger. Mettertyd sal dié maan ’n net donker ysblok wees. Ek heg ’n foto aan van die Adviesmuseum in sy eertydse glorie. Hopelik is dít hoe hy onthou sal word…

Atlantis