ONDULAN – Gerrit van Dijk

UITTREKSEL (bl. 7 reel 15 – bl. 8 reel 33)

“Ek ken ‘n surfer as ek een sien,” korrel hy Despatch oor sy bril uit met ‘n Sinter-klaasglimlag soos hy ‘n paar blikkies aanstoot en voortgaan met die tik-

“Van Despatch af, is jy seker ‘n Jeffries-man!”

“Mm?”

“Jeffriesbaai. Jy’s hier vir die duine. -Nog vêr om te gaan…” Anoniem agter sy Oakley-sonbril, haak die hoeke van sy derduiwel-glimlag diep onder sy kortbebaarde wange in,

“Ek ry verskeie goed- Kode veertien’s. En duine is nie een van húlle nie.”

“En wat is dit?” Die man moet rasend wees vir geselskap! dink Meiring,

“Nee, ek is hier vir iets anders.” Die kassier steek vas, sy oë koddig op Meiring gebout van bo-oor sy bril. Hy moet baie eensaam wees, dink Meiring weer. Die stilte wat volg laat hom meer kwytraak as wat hy voorgeneem het, en bring hom tot verhaal-

“-’K wil ‘n plekkie gaan opsoek.” Die kassier wag. Meiring weet hy gaan hom nie los voor hy nie ‘n storie hoor nie. Hy word jou wragtag gyselaar gehou! Maar iets omtrent die ou man sê Meiring hy is gesout in dié soort ding, en kry dit gereeld reg sonder om aanstoot te bring. Nou goed dan… Hy neem diep asem, en begin huiwerig,

“T’rug in die Eerste Wêreldoorlog het ek die wonderlikste kampvuur ondervinding hier naby beleef…”

“Eerste?” en die ou man se oë begin ondeund te rol-

“Tagtig jaar gelede?” Hy korrel sy klant, wat duidelik nie ‘n dag ouer as veertig kan wees nie, skepties oor die rand van sy bril uit. Meiring pruil sy mond ondeund,

“Goed dan…” Hy aarsel ‘n oomblik voordat hy poëties antwoord,

“Ek lieg…” Die kassier steun teleurgesteld, en gaan voort op die knoppies.

“Dis van staar na gestippelde kamermure van drywer-oornagplekke vanuit ‘n sekere hoek wat my laat verlang na plekke soos die maan… Mars. Plat, onbewoonde horisonne.”

“Mars?… Klink nie of jy juis stilsit nie. Dis so naby as dêmmit híér as jy wil Mars toe-!”

Die kassier steek vas soos hy skielik ‘n skalkse grinnik in die kiem smoor- Sy blik val sekuur op die geelkoper halssnoer oor Meiring se breë bors. Hy vries so vas dat die langhaar man hom eintlik uit sy eie hipnose moet haal-

“…Dis al… -Dankie.”

“…Sal dit al wees?” vra die winkeleienaar nog boonop. Meiring loer skepties na hom, tog help hy deur die hoekies glad te skuur met-

“Laat ek ‘n ekstra liggie by vat-” en plak ‘n sigaretaansteker van die staandertjie op die toonbank af, voor die effe ontstelde man neer.

“Honderd een-en-twintig, twee-en-sewentig.”

Meiring vlek sy beursie oop en pluis deur die note. Dis toe net hier waar die eienaar sien hoe dieselfde simbool aan Meiring se nek, as ‘n tatoeëermerk pryk op die rug van sy regterhand! Tussen die kneukels van sy duim en wysvinger. Meiring voel duidelik die skielike vertroebeling van die atmosfeer. Hy ken dit- Veroordelend, konserwatief, soos die gemeente van die kerk op sy tuisdorp. Hy draai sy gesig weg vir ‘n blik op die eensame straat buite waar ‘n Jeep met ‘n drywer op hom wag,

“Bly daar mense op Karibib?” vra hy ontwykend en niksbeduidend soos ‘n dwelm-koppelaar.

“Jy ís op Karibib!” Mágtag! Hy het dan self die wit monumentagtige padteken met die naam daarop voor die dorp gesien -Én afgeneem!

“-Ja-ek bed-”

“Usakos?…Klein dorpie. Definitief nie so groot soos Despatch nie…”

“Ja maar wanneer laas was jy op Despatch?” glimlag Meiring ondeund. Die kafee-eienaar glimlag terug, ietwat verleë, voordat Meiring hervat-

“Hoe vêr hier van Usakos af?”

“Twee-en-dertig… agt-en-twintig kilo’s. So… vyftien minute as jy platlê, anders kan dit ‘n goeie uur of twee wees na Henties of Swakop. –Dis nou as jy nie vassteek by Spitskoppe nie…”

Die winkeleienaar het sedig en geduldig gewag tot Meiring buite sig verdwyn, voordat hy gulsig die telefoon gehoorbuis gryp. Hy ruk amper die foon van die toonbank af soos hy koorsig met ‘n bewerige krom wysvinger die Windhoeknommer begin aftel. Sy oë piets ernstig rond in afwagting op die luitoon. Groot-oog loer hy rond, ingeval die man met die lang donker hare dalk iets sou vergeet het. Toe die nommer begin lui, stryk hy sy rug versigtig in verligting,

“Kom, tel nou net op!” Tyd vir ‘n volgende asemteug was daar nie-

“Schalk! Schalk dis Anne’ries. Luister- Nee goed! Maar hoor eers hier- Daai klip van jou- Die een met die tekening op- Die een wat julle dink deur wesens van ‘n ander plan- Ja die een wat julle by Spitzkoppe gekry het! Nou hier was nou net ‘n kêrel hier in my winkel, met dieselfde simbool om sy nek, én getatoeëer op sy regterhand!” Stilte.

“Nee ek het niks laat blyk nie, niks gevra nie, maar hy’s op pad soontoe! Ja. Het gevra of daar mense is, oor Usakos en so meer. Ek het altyd gewonder hoe sou Jesus met ‘n sonbril lyk, én ‘n paar ekstra kilo’s. ‘n Lang perd, en nie lig in die broek nie. ‘Sal nie met hom neuk nie. Hoe? Hy’s nou net hier weg, op ‘n Jeep!”

 

UITTREKSEL (bl. 24 reel 15 – bl. 25 reel 7)

Swaar skuifdeure van ‘n lugsluis maak voor hulle oop. Van hierdie hoofroete, is hy en Jadda die enigstes wat daarvan afwyk. Dis die roete na ‘n lanseerbaai. Weer maak ‘n stel blokagtige skuifdeure voor hulle oop, waaragter ‘n silwer gang met dwaalselektiewe rooi insetsels wag. Die gang se loopvlak vat ‘n duik na onder in ‘n traplose afrit. Die gelykte wat volg is ‘n kruising wat inhamme bied vir twee toe kuifdeure wat na mekaar gekeer is. Na die gang se hervatting met die daaropvolgende oprit, wag weer ‘n kruising. Oorkant wag die hyserbuis na die lanseerbaai waar Adanaii ‘n pendeltuig sal neem Aarde toe.

Adanaii stop en draai na Jadda. Hulle oë ontmoet. Jadda haal diep asem en draai sonder ‘n woord om, terug soos hulle gekom het. Hulle sê niks aan mekaar soos hy terugstap nie, maar net ‘n paar treë nadat hy verby die eerste kruising stap, besluit hy om om te draai net vir ‘n laaste blik op sy vriend. Jadda se beplande omdraai en weer aanstap, draai toe nie so uit nie. Hy gaan staan doodstil. Adanaii staan steeds waar hy was. Alles omtrent sy postuur sê hy wag vir iemand na wie hy kyk, verder dwars af in die aansluitende gang-

“Taéll Adanaii Shanidar?”

Adanaii staar die man in die donker uitrusting uit wat na hom toe aangestap kom van die aansluitende gang. Hy lyk soos die tipiese held van ‘n goedkoop karate-fliek met die styl swart lang hare wat om die gesig oopgesny is en pluiserig wegstaan in die lug,

“My naam is Radar Skaii. Ek dra die amp van Kree-Ulian voor An-jori, Aregan Shanidar. Ek is gestuur om jou te kom haal en direk Mediese sentrum toe te neem in Rahnn Saikon. Die kaptein van die kruiser is reeds in kennis gestel en jou oorspronklike reëlings gekanselleer.”

Skepties neem Adanaii die klein perspeks stafie wat die man na hom uithou. Met sy oë wat beswaarlik van Skaii af wegdraai, druk hy die stafie met die goue skyfie daarin geset teen die ‘gesiglose horlosie’ aan sy gewrig. Onmiddellik projekteer ‘n reghoekige holografiese plaat in die lug langs sy arm. Sy oë steek na die data.

“Die pendeltuig wag.”

Jadda staan stil met ‘n verwonderde frons en kyk na die twee figure wat soos teerpale teenoor mekaar in die kruising staangemaak is. Dan draai die onbekende man om, terug vanwaar hy gekom het, met Adanaii agterna. Jadda sluip weer terug, sy bonkige veterlose tekkieskoene onhoorbaar op die soliede vloer, in die dowwe dreuning van die skip se lugversorging. Dan beweeg hy ál vinniger tot hy by die rand van die kruisingmuur kom. Met sy rug teen die muur, loer hy versigtig om die hoek, net om te sien hoe die twee skuifdeure van ‘n hyserbuis aan die onderent van die gang toemaak.

Etlike minute later op die Aarde gaan hyserdeure op ‘n vloer in die Rahnn Saikon Mediese sentrum voor Adanaii oop. Radar Skaii is kort op sy hakke. Die somberheid in die ruim skemersitkamer tref hom nog voordat die toneel van sy vergaderde familie sy bewussyn bereik. Sy mantelpunte krul swewend van die volvloermat op soos hy haastig op die losgemaal van omtrent vyftig mense, byna tien geslagte bymekaar, afstuur.

 

UITTREKSEL (bl. 49 reel 12 – bl. 50 reel 36)

Dis ‘n geforseerde glimlag waarmee hy terug waai van agter sy masker-sonbril, en stap stadiger nadat hy weer omgedraai het. Adanaii gaan staan stil vir die groot figuur wat vanuit sy linkerkant na hom toe aangestap kom en sy persoonssfeer binnedring. Hy haal sy bril af. Vir vyf tellings staar hulle moeg na mekaar.

“-Dis byna moeiliker vir my as vir jou- Ek weet nie of ek myself moet wegwys, of wegbly of wát om te maak nie…”

“Ek’s bly… Dankie dat jy kon kom, Jadda.” Hy slaan sy arms om sy kleiner vriend, en fluister voor hy hom weer los-

“Ek is jammer.” Die lomp stilte daarna laat Adanaii die eerste ingryp-

“Wentel julle nog steeds? -Geen vooruitsigte nie?”

Adanaii tree sywaarts en hulle begin stadig te drentel. Hy het verwag van Jadda om kontak te maak en hom in te lig omtrent die Terminus Est se vlugrooster sodra die vleuelbevelvoerder iets uitvind, siende dat daar niks op die agenda was ten tyde van sy landverlof nie. Nou is Jadda hier. Dus het die ruimteskip waarop hy en Jadda diens doen, steeds nie die Aarde verlaat nie. Dis asof die dood van sy ma se skokgolwe tot daarso strek-

“Ons… weier om te vertrek sonder jou,” glimlag Jadda speels en Adanaii grinnik.

“Kom nou, jy weet jy’s ‘n nie-amptelike openbare figuur-” hou Jadda vol-

“-Jy trek gou aandag as jy net werk maak daarvan. Sodra jy jouself word-”

“Ry die boot tot óp die sand!”

“Ons vertrek vanmiddag na Corona Oblongata vir die volledige bemanningsregistrasie. Sorg jy dat jy reg is as ons verbykom, terug. Reg?!”

“Wed daarop!” glimlag Adanaii voor hom uit, ek kyk met vuur in sy oë vir Jadda,

“Buitendien- Die Sprong na Andromeda ís van hier af!”

Geen antwoord volg direk daarna nie. Adanaii sug met ‘n gryns in die son in met hande wat stokstyf in sy jassakke van sy heupe af skoppelmaai ry-

“Kyk na my Jadda. Ek voel soos ‘n ou skip- Klaar gery, oud en ontruim, gelos om in die son se gravitasieveld te verdamp-”

“-Dis altyd as ons dink dinge klaar is, dit eintlik eers begin.”

“Spaar my die filosofieë asseblief. Jy weet dis die laaste ding wat ek nou wil hoor- ‘Dappere-stapper’-sentiment.”

“-Wie was daai ou waarmee jy saam weg is nadat ek jou op die T.E. afgesien het?” val Jadda skielik van die os op die jas. Adanaii dink dis doelbewus, en frons,

“Wat laat jou nou aan hom dink?” Jadda krom sy stewige oermensmond, en wip sy wenkbroue saam met sy skouers-

“-Maar net gewonder. Ek het hom nou net weer gesien-”

“Waar?” draai Adanaii vol-lyf na hom toe. Jadda talm eers,

“Hy het die seremonie dopgehou.” Adanaii steek vas en draai vol na Jadda-

“Jy bedoel hy was hier?”

“Ja. Ek dog jy ken die ou. Ek meen julle was saam op die T.E. –Ek dog jy sou hom hier herken…”

Adanaii bly oopmond stil.

“Wie is hy? Hy moet baie belangrik wees.”

“Wat laat jou dit sê?”

“Hy kan teleporteer.” Nou is Adanaii se oë wild. Sy naels klou Jadda se skouer en vra in ‘n amperse grom-

“Wat sê jy daar?”

“Goed ek het hom nie gesíén teleporteer nie, maar ek sal nie verbaas wees as hy kan nie.”

“Hoekom dink jy kán hy?”

“Wel by my aankoms was ek op ‘n stadium alleen… en toe ek weer sien stap die ou van tromp-op van voor van my af, wég, ná die skare en die fokuspunt- Dis net die enigste verduideliking…” Adanaii staar dof verby Jadda se heup, op die teëls, en begin dan weer met hulle lui stappie,

“Hy het homself aan my voorgestel as Radar Skaii. Hy het gesê Aregan het hom gestuur-”

“Wat sê Aregan van die ou?”

“Ek het hom nog nooit gevra nie!” Adanaii steek vas. Hulle staar na mekaar, en loer versigtig rond of hulle hom gewaar. Adanaii gaan voort,

“Hy het volle klaring vir my gereël van die T.E. af.”

“Seker?”

“Natuurlik is ek seker- Ek het dit bevestig net daar en dan. Jy moes ons gesien het.”

“Ek het gesien hoe julle saam wegstap.”

“Jy dink hy’s ‘n Excel-Veris?” Jadda haal diep asem-

“Of dít… of hy kan net gewoonweg teleporteer, -wát sommige… Baie mín mense kan doen. Die Woord beskryf teleportasie. -Philippus nadat hy die Ethiopiër gedoop het, Christus self het, mét ‘n hele skuit vol mense! Dis nie vandag so ongewoon nie. Dan weer, kan hy lid wees van CYPRON, siende dat hulle verskeie dimensionele frekwensies gebruik,” sluit Jadda af.

“Nee… Ek dink dis dieper. Dié ou is byna alomteenwoordig. Ek dink hy’s- Magtag ek weet nie wát om te dink nie! As hy ‘n Excel-Veris is, is hy heel waarskynlik hier langs ons, en sal hy nie weer verskyning maak nie!”

“Wel as jy hom weer sien, pen jy die haas deeglik vas en wurg alles uit hom uit-”

“Ja… ja…” sug Adanaii asof hy dagdroom. Reeds het hy ‘n troefkaart in sy mou,

“Miskien moet ek dit doen.”

 

UITTREKSEL (bl. 231 reel 13 – bl. 231 reel 39)

Die situasie word skielik ontlont deur Aregan se kommunikator wat gebroke zoem. ‘n Holografiese skerm vertoon vir een sekonde in die lug langs hulle om die prioriteitsvlak aan te dui. Aregan hou dadelik sy pols teen sy oor met Adanaii wat ‘n paar meter weg gaan stilstaan, sy rug effe gegeer op die Sentrin. Aregan ruk sy pols van sy oor af weg en tree haastig vorentoe-

“‘K moet gaan! Iets het voorgeval!-”

“Hoe gemaklik…” dink Adanaii.

“Gaan direk na die LTV en moenie van die roete afwyk nie. Jy is geklaar slegs vir hierdie roete!” en Aregan maak hom uit die voete.

Adanaii kan homself steeds verwyt vir sy Navorsingsveld-episode. As hy homself nie so ‘n prys op die kop gesit het nie, kon hou nou dalk vry rondbeweeg het!

Vir ‘n sekonde het hy daar voor die SAEAN ernstig oorweeg om homself in God’s hande oor die reëling te werp na die vloer ‘n paar verdiepings ondertoe, en sy een beste skoot te gee vir die stuurkajuit van die SAEAN. Maar uit sy Navorsingsveld-avontuur het hy goed geleer om nie op te tree as die oortuiging nie daar is nie.

Hy het net ‘n handvol meter gestap, seker net toe Aregan buite sig is, toe sy kommunikator ook sein. Verbaas oor wie hom hier kan bereik, kan hy net dink dat dit Aregan kan wees wat hom weereens maan om te maak dat hy van die eiland af kom-

“Ja! Ja! Ek beweeg-”

“Ethréc luister mooi en luister goed!” kom dit skielik ernstig van die ander kant af. Niemand behalwe nabye familie en vriende noem hom Ethréc nie-!

“-’n Nuwe roete is ingelê in jou kommunikator. Volg dit, en maak gou!”

“Wie is dit?!”

“Wie ek is, is nie belangrik nie. Die belangrikste- Is dat jy maak soos ek sê as jy ooit aan boord van die SAEAN wil wees!” Adanaii kyk ontnugterd rond,

“Ek kan nie nuwe roetes volg nie. Ek is net geklaar om by my LTV uit te kom!”

“Ek sal nie ‘n roete aan jou verstrek as jy nie geklaar is nie! Jy het agt minute!”

 

UITTREKSEL (bl. 246 reel 24 – bl. 247 reel 17)

Sterre sit soos diamantgruis, bevrore, geset as yl vlamme wat hopeloos en te vergeefs beur deur dik swart rook. Diep, vlootblou en eindeloos.

Stil en klankloos, beweeg een nietige stippeltjie stadig en sonder glans tussen die ander deur, vry van ‘n baan of enige-iets wat ‘n vaste roete bepaal. Stadig en gewigloos, tuimel die SAEAN om haar eie as, gehul in die flou lig van verafgeleë sterre wat slegs afgewissel word deur die louwarm roomtint van die yl, en verre son wat beurtelings oor die soepel, gladde pylpunt-inkvisvorm speel.

Skielik, soos die flou sonlig met die pynlik-stadige aswenteling van die tydskip oor die romp wegtrek, spring iets uit die niet soos die skaduwee van ‘n rats aap op die SAEAN se rug neer. Van bo af, net ‘n skommeling in die grein van die peiler se rompoppervlak, bly die skaduwee stil waar dit neergespring het, ‘n blote distorsie-verwringing soos eterdamp.

Die flou sonlig blaai steeds beurtelings oor die SAEAN se pens en rug soos sy stadig buite beheer in die ruimte tol. Eers toe die distorsie self in die SAEAN se skadu kom, is dit die gestalte van ‘n draakagtige insekgedrog in die plek daarvan, glasagtig afgeëts teen die ruimte se swart.

Met onnatuurlike sekelkloue soos messe teen vlekvrye staal op die SAEAN se rompstruktuur, kruip dit met vloeiende akkedisbewegings vorentoe. Die hele lyf is deursigtig, asof dit nie eens daar is nie, met die romp self wat deur die hottentotsgotagtige skepsel se draak-spinnekop lyf sigbaar is. Geen oë blink in die verwronge, byna menslike kop nie, net ‘n kranksinnige, bloeddorstige gryns van ‘n skedel met minimale weefsel! Die skepsel kruip slu voort oor die tuimelende SAEAN terwyl dit soos ‘n kraag-akkedis met oop kake, onophoudelik dreig asof dit iets wil afskrik.

Met Adanaii en Jadda steeds bewusteloos van die pas-afgelope tydsprong, neem SOLO alles waar deur sy rompsensors, waardeur hy ‘n perfekte driedimensionele beeld herstruktureer waarvan sy aftasters niks solied aandui nie! Dan stop die gedrog direk bo Jadda en Adanaii. Die stekelrige stert krul met vloeiende ruk-bewegings soos ‘n kat op sy hoede, waarop hy met ‘n giftige gryns vir oulaas buite rondkyk. Die monster sekel sy krom reiernek met ‘n skerpioenstert-beweging agtertoe, en pik na die romp.

Die verwronge skedel moker bot en onintelligent teen die romp vas. Daar hou hy sy kop, ontnugterd, verbaas dat hy nie kan deur nie. Data van die gebeurtenis sing deur SOLO se gehuestroombane. Meteens trek die skepsel weer sy kop met ‘n sweepslag terug, en staar dan verskrik in die niet langs die SAEAN die ruimte in, terwyl hy met oopgesperde kake gryns vir iets onsigbaar en dreigend. Die knoetsige lyf trek retirerend inmekaar asof hy wil wegkruip. Vir die eerste keer is daar vrees en afgryse op die dooie gesig, en die dreigende gryns versag meteens om soos ‘n bang skoothondjie tjankend die aftog te blaas. Skielik tref ‘n intense ligflits die skepsel vanuit die niet langs die SAEAN, en verdwyn die skepsel met ‘n kortgeknipte gil soos donker voor lig.

1 thought on “ONDULAN – Gerrit van Dijk

  1. Ek hou van die gemaklike skryfstyl. My ou maat het die gawe.

Comments are closed.