Elizabeth Klarer

Daar is werklik min mense wat so ‘n interessante lewe gelei het as Elizabeth Klarer. Sy is gebore 1 Julie 1910 as Elizabeth Wollatt by Mooirivier in Natal, waar sy as plaasmeisie groot geword het. As sewejarige het sy vir die eerste keer ‘n vreemde vlieënde voorwerp (VVV) gesien buite die plaashuis waar hulle gewoon het en haar ouer suster het dit saam met haar waargeneem. Sy het dit beskryf as as ‘n vallende voorwerp (iets soos ‘n verskietende ster) wat gou deur ‘n silwer metaalagtige skyf,  wat  ‘n skynsel afgegee het, onderstep was. Elizabeth was van vroegs af geïnteresseerd in die Zoeloe mitologiese verhale oor wesens uit die lug.

Later van tyd het sy haar matriek in Pietermartizburg voltooi waarna sy in Italië musiek gaan studeer het, en daarna ‘n vierjaar diploma aan die Universiteit van Cambridge in meteorologie. Sy ondergaan ook opleiding as loods om die DeHaviland vliegtuig te vlieg.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is sy in diens van die Suid-Afrikaanse Intelligensie en gesekondeer aan die Britse Weermag. Terwyl sy en haar eerste man (‘n toetsvlieënier in die RAF) eendag in ‘n tweemanvliegtuig gevlieg het, het ‘n ruimtetuig (‘n tipiese vlieënde piering) tot langs hulle gevlieg en vir ‘n tyd lank so langs hulle bly vlieg – die voorval is deur haar man bevestig.

In 1959, terwyl sy saam met vriendinne in die Drakensberge ry, sien hulle ‘n VVV. Hierdie keer het Elizabeth ‘n kamera byderhand en neem sy ‘n paar kiekies wat later ontwikkel word en waarop die voorwerp duidelik sigbaar is.

 

Hierdie foto’s word later deur deskundiges nagegaan en as outentiek bevestig. Om die waarheid te sê, dit word tot vandag to nog beskou as van die beste bewyse van hierdie aard.

Asof die storie tot hier nie reeds ongelooflik genoeg is nie, is dít nie eintlik waarvoor Elizabeth Klarer onthou word nie.

In die middel 1950s land ‘n ruimtetuig en neem dit vir Elizabeth op ‘n vlug om die aarde en gaan ook aan boord van ‘n moederskip. Daar ontwikkel egter ‘n liefdesverhouding tussen Elizabeth en die man wat haar opgelaai het (Akon) en hulle neem haar uiteindelik na hul planeet – Meton, wat blykbaar een van sewe bewoonde planete is rondom Proxima Centauri (die naaste sonnestelsel aan ons eie en sowat 4 ligjaar hiervandaan).

Op Meton raak Elizabeth swanger by Akon en gee uiteindelik geboorte aan ‘n seun – Ayling. Hul seun bly toe agter op Meton om opgelei te word en Elizabeth keer terug na die aarde nadat sy begin sukkel met haar gesondheid weens haar onvermoeë om aan te pas in die nuwe wêreld.

Nadat nuus hiervan uitkom, word Elizabeth geteister deur die intelligensie van die VSA, en word sy byna ontvoer deur die Russe.

Elizabeth is verskeie kere daarna weer besoek deur Akon en soms ook Ayling. Om haar verhaal aan die wêreld te vertel skryf Elizabeth Klarer ‘n boek Beyond the Light Barrier – ‘n boek wat so populêr was dat dit al verskeie kere herdruk en uitgegee is.

Elizabeth word in 1975 staande toegejuig in Duitsland by die elfde Internasionale Kongres oor VVV-Navorsing. In 1983 spreek sy die Hoërhuis van die Britse regering toe, en haar toespraak is voorgelees by die Verenigde Nasies.

Elizabeth Klarer sterf in 1994 aan kanker voordat sy haar volgende boek kon voltooi – The Gravity Files. Regte is onlangs bekom om ‘n dokumentêr te maak oor haar lewe.

‘n Interessante kinkel in die storie is dat daar op 24 Augustus 2016 die ontdekking bekend gemaak is van ‘n nuut-ontdekte planeet rondom Proxima Centauri wat lê binne die sogenaamde bewoonbare gebied – Proxima-B.

Elizabeth Klarer se verhaal gryp die verbeelding aan en sy verdien om onthou te word vir haar verstommende bydrae tot die onverklaarde geskiedenis van ons tyd.

Kyk gerus na die onderhoud wat met haar gevoer is (ongelukkig in Engels) – dis baie insiggewend.