Ad Astra

Almal het asem opgehou in afwagting vir die uitreiking van Ad Astra, wat blykbaar die groot een sou wees vir 2019.  Wel, uiteindelik het die oomblik aangebreek en, wel, ek weet amper nie wat om daaroor te sê nie.

Daar het duidelik baie moeite in die vervaardiging ingegaan en groot akteurs soos Brad Pitt en Donald Sutherland skep natuurlik ook hoë verwagtinge.  En alles is noukeurig saamgestel met min foute om jou speelgoed oor rond te gooi.  Verder is daar ook die internasionale resensies wat feitlik almal net die hoogste lof het vir hierdie skepping.

Maar as ek eerlik moet wees, was dit nie ‘n lekker fliek nie.  Dit is swaar om te kyk en jou hartklop raak soms laer as die hoofkarakter s’n (wat gedurig in die fliek nagegaan word en wat feitlik onmenslik laag is).

Die feitlik algehele afwesigheid van emosie by die hoofspeler help regtig nie, en maak dit eintlik moeilik om met die karakter ‘n band te smee.  Soos meeste harde wetenskapfiksie is die meeste van die tonele oortuigend en is dit duidelik dat hulle baie huiswerk gedoen het om dit te skep – tog is daar ooglopende dinge wat pla, soos die maan se swaartekrag wat skynbaar dieselfde as die aarde s’n is.

Gewoonlik, as ek ‘n goeie wetenskapfiksiefliek gesien het, sal ek mettertyd dit vir myself aanskaf en weer daarna kyk om dit van voor af te geniet.  Maar dit sal nie die geval wees met hierdie een nie…

Dit sou onwaar wees om te sê dat die fliek nie goed was nie, maar terselfdertyd sal dit misleidend wees om dit sterk aan te beveel.  Ek dink mens gaan kyk dit bloot om te sê jy het dit gesien om saam te kan gesels, of omdat jy ‘n aanhanger is van een van die akteurs.

Ad Astra is goed, maar jy hoef nie te voel jy loop iets ongeloofliks mis indien jy nie daarby uitkom nie…

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui