Utopie

Daar bestaan natuurlik ‘n haas grenslose aantal dinge waaroor daar gespekuleer kan word binne die feitlik onbegrensde wêrelde wat in wetenskapfiksie en fantasie opgetower kan word.  Dit is dus kwalik ‘n verrassing dat die skeppers van fantastika dikwels hulself ‘n beter wêreld probeer voorstel as die een wat werklik bestaan – soms soveel beter dat hul hulself ‘n volmaakte realiteit kan probeer optower. Só ‘n wonderbaarlike wêreld staan bekend as ‘n utopie (‘n tipe “hemel-op-aarde”), en natuurlik het dié wat in so ‘n wêreld woon ‘n baie hoë vlak van geluk en is daar toegang tot die meeste van die hartsbegeertes van die individue wat deel is van so ‘n samelewing – gewoonlik omdat feitlik alle beperkings deur die stelsel verwyder is.

Aan die ander kant word die teenoorgestelde dikwels uitgebeeld.  Samelewings wat ‘n tipe hel verteenwoording vir dié wat daarvan deel is, staan as ‘n distopie bekend.  Hierdie tipe realiteit is gewoonlik so ver van volmaak af as wat mens jouself denkbaar kan voorgestel.  So ‘n stelsel is gewoonlik uiters onderdrukkend en stel geen premie op die wense of welstand van die individu nie, of sal dit in sommige gevalle doelbewus probeer ondermyn.

En beide van hierdie twee moontlikhede kom maar al te gereeld in wetenskapfiksie voor en tot ‘n mindere mate ook in fantasie.

Natuurlik is dit oor die algemeen nie moontlik vir so ‘n utopiese samelewing om te bestaan sonder dat daar nie ‘n vorm van sosiale ingenieurswese toegepas word nie.  Dit is natuurlik ‘n feit dat vele utopieë nie werklik kan bestaan sonder dat daar ooreenkomstige distopieë moet bestaan om daarmee te balanseer nie – ‘n feit wat relatief ooglopend is en wat baie goed verstaan word deur die skeppers van WF+F.

In die onlangse kuberpunkfliek, The Ghost in the Shell (2017), kry ons te doen met ‘n utopie waarin mense bionies verbeter word deur die inplanting van tegnologie wat hul verbeter of genees.  En, hoewel dit na ‘n goeie idee klink (‘n idee wat tans besig is om ‘n werklikheid te word), is dit duidelik niks meer as ‘n distopie waarin ons die een hool na die ander besoek en waar mense bloot ‘n kommoditeit geword het soos kos of drank.

Maar die idee van ‘n utopie kom selfs geredelik in Afrikaans voor, en ‘n hele aantal sulke werke word gelys in die doktorale proefskrif van Joan-Mari Barendse getiteld Distopiese toekomsromans in die Afrikaanse literatuur ná 1999 wat sy saamgestel het vir haar Ph.D. wat sy aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het.  Baie van die werke wat hierin gelys word het egter nie veel van ‘n WF+F-karakter nie, maar behoort natuurlik steeds tot die wêreld van spekulatiewe fiksie en is daarom vir ons ook relevant.

Afrikaanse wetenskapfiksie is egter nie totaal sonder sy eie deel van utopiese skeppings nie.  Een van die vroegste voorbeelde hiervan is August van Oordt se vroeë werk, Seuns van die Wolke, wat vir die eerste keer in 1931 uitgegee is.

In hierdie verhaal word ‘n toekomstige Suid-Afrika uitgebeeld waarin die bevolking grootliks afstand gedoen het van grondvervoer en eerder van allerlei vliegtuie gebruik maak.  Die Unie van Suid-Afrika het weliswaar ‘n lugreisende gemeenskap geword met intrige en probleme soos wat in só ‘n beskawing te wagte kan wees.

In ‘n baie meer onlangse utopie word ‘n naamlose wêreld beskryf waarin die mensdom al die luukses van ‘n tegnologies gevorderde wêreld kan geniet.  Maar selfs in ‘n wêreld wat al die booshede van die verlede doelbewus probeer elimineer, is daar natuurlik altyd verset teen totalitêre stelsels, en Aanval op Soma van J F de Waal (2013) is geen uitsondering nie.

Een van die mees indrukwekkende utopieë in Afrikaanse wetenskapfiksie is Wille Martin se Kaptein Kristen-reeks, naamlik Kaptein Kristen, Atlantis en Narcissus.  Hierdie drie boeke vertel ‘n enkele storie van twee afsonderlike utopieë wat uiteindelik blyk beide distopieë van reuse afmetings te wees.  Dis ongelooflik dat ‘n skryfster van meestal romantiese boeke, so ‘n ongelooflik kleurvolle verhaal kon bedink.  Hierdie reeks is van die mees bekombare in die wêreld van Afrikaanse tweedehandse wetenskapfiksie en jy doen jouself tekort indien jy nie hierdie drie gelees het nie.