‘n Onderhoud gevoer met Gerrit van Dijk

AF: E-boek of ‘n gedrukte boek?
GvD: Beide. Die hardekopie is steeds aantrekliker, maar ‘n e-boek soveel makliker, al weet ek maar net van e-boeke, maar het nog nooit een op ‘n “Kindle” gesien of ervaar nie.

AF: Wat doen jy om te ontspan?
GvD: Leeglê. Maar hoofsaaklik slaap, want die wêrelde waarvan jy droom, is baiemaal die eiersel van ‘n nuwe verhaal.

AF: Hoe kom jy aan jou karakters?
GvD: Baie word gebore uit indrukwekkende karakters wat jy sien in lewende lywe, of in flieks of TV. -En jy wil graag jou eie weergawe van so-iemand ‘besit’. Soms het jy ‘n sitsuasie wat jy graag wil oor skryf, en dan moet jy die karakter skep om die sitsuasie te kan uitbeeld.

AF: Waarvandaan kry jy jou idees?
GvD: Ek dink alle idees kom uit die nie-fisieke veld van realiteit. Byvoorbeeld: Die woord “Musiek” of “Music” is afkomstig van die woord “Muse”, wat basies ‘n gees beteken, of ‘n geestelike wese, of ‘n bron van inspirasie buite ons sigbare ligspektrum. Ons is die versterkers of lense van hierdie data wat uit ander dimensies afkomstig is. So, al inspireer iets of iemand anders jou, is daai oorspronklike konsep nie van hier nie. Eintlik kan niemand aanspraak maak op iets as hul eie idee nie. In die boek Henog wat nie in die Bybel verskyn nie, vind ons dat gereedskap en kennis oor metale en allerhande dinge van engele afkomstig was, wat nie veronderstel was om daardie kennis met die gevalle mens te deel nie. Dus kom tegnologie van “die ander kant” af. Die Bybel sê ook niks onder die son is nuut nie, en ek vind baie dinge, modelle of sitsuasies, bestaan reeds in die skepping.

AF: Waar kan mense jou boek(e) koop?
GvD: Huidiglik, net op die internet. As jy ONDULAN intik op Google, kry jy dit onder Xlibris. Ek het ook al ONDULAN ingetik op kalahari.com/net, en dit het opgekom. Ook op Amazon.com

AF: Wat is die moeilikste deel van skryf vir jou?
GvD: Die nasien, nadat jy die einde van die rofskrif bereik het. Dan kom jy agter of jy jouself vasgeskryf het of nie, en of jou punte met mekaar klop, en of jy jouself nie weerspreek nie.

AF: Watter boek(e) lê nou tans op jou bedkassie?
GvD: “Voices of the San”, en “Myths and Legends of Southern Africa.” Ook boekies van Joseph Prince en Kenneth Copeland, en my ou verslete studentebybel.

AF: Wat is jou gunsteling deel van die skryfproses?
GvD: Wanneer jy agterkom jy het wel ‘n noemenswaardige storielyn, en nie net ‘n klomp gebeure wat nêrens heen lei nie.

AF: Hoe dikwels skryf jy en hoeveel ure op ‘n slag?
GvD: Saans voor bedtyd op my skootrekenaar, en naweke. Seker nie meer as 2 uur op ‘n slag nie.

AF: Wat was jou gunsteling slaaptydstorie as kind?
GvD: Die Huppelboekies van WO Kuhne. Om ‘n paralelle heelal te betree, moes hy baie stil sit op ‘n stomp oor ‘n spesifieke rivier of dam!

AF: Waaraan is jou belangstelling in WF/F te danke?
GvD: My pa. Dit was net na die Apollo-sendings en hy het baie met my gedeel oor die ruimte. My van die planete geleer, swaartekrag. En toe kom Hollywood…

AF: Hoe het die sosiale media jou gehelp as skrywer?
GvD: Geen. Sosiale media sien jou as ‘n armlastige as jy nie ‘n erkende, gevestigde skrywer is nie.

AF: Is daar enige verborge boodskappe in jou stories?
GvD: Heelwat. Maar die hoofboodskap was eens die onderskrif by die titel:”Dis wanneer ons dink alles is verby, is dit eintlik die begin…

AF: Hoe voel dit om ‘n gepubliseerde skrywer te wees?
GvD: Ek het gemengde gevoelens. Na 23 jaar sien ek uiteindelik die voltooide produk, maar jy sit nog steeds met die bitter nasmaak van verwerping, en “jy gee self uit”. So alles, buiten vir God se toedoen, is deur jou “eie stoom”. So jy word net erken deur diegene wat alreeds in boek besit, en hulle waardering uitspreek.

AF: Watter persoon het ‘n liefde vir lees by jou gekweek?
GvD: Dis die grap. Ek lees glad nie, behalwe as dit iets is soos ‘n geheim wat openbaar word.

AF: Hoe sou jy wetenskapfiksie en/of fantasie definieer?
GvD: Enige-iets buite ons huidige tydsfeer of onmiddellike ruimte.

AF: Wie sou jy se is jou grootste ondersteuner of kritikus?
GvD: My vrou as my ondersteuner en my suster as kritikus.

AF: Wanneer het jy geweet dat jy ‘n WF/F skrywer wil word?
GvD: Ek was as kind besig met ‘n soort jakkals en wolf-storie. Kort voor lank het die diere in hierdie storie ou skepe begin plunder vir tegnologie, radio’s en radar reggemaak, en bo-natuurlike ondervindinge gehad. Die die vlot waarmee hulle om die Weskus geseil het, het al meer soos ‘n ruimteskip begin funksioneer. Toe was die spyker in die kis. Dit was 1985.

AF: Hoe balanseer jy jou skryfwerk met werk, huis en familie?
GvD: Dit knor maar.

AF: Met watter karakters het jy gestoei om hulle net reg te kry?
GvD: Jadda, om maar een te noem. Hy was eers pikswart, ‘n soort Klingon-karakter, en byna 4 meter lank. Die Pendariërs was eers ‘n ras van ‘n ander planeet, en nie Aardse koloniste nie. Cytheria was ook bewoon deur bleek insekagtige witmense, maar ek het weens geestelike oortuigings teen buite-aardse mens-wesens besluit. Maar hoofsaaklik bly my karakters se persoonlikhede rotsvas, dis hulle voorkoms wat baie groei in die skryfproses. Ek dink oorwegend is Japanese Animé-karakters soos Robotech, die lees waarop meeste van my karakters geskoei is. Ek het ‘n hele lys van akteurs wat reeds gekies het vir my vernaamste karakters. Karl Lagerfeld byvoorbeeld is Aregan Shanidar. Jet Li is Radar Skaii, die gasheer van die partytjie in Ace Ventura 1 is Helicron, en so-aan.

AF: Wat is dit wat jou trek na ‘n spesifieke WF/F sub-kategorie?
GvD: En ek neem aan die sub-kategorie is Christelik…Wel, sedert Jesus in my lewe, en my wandel met God sedertdien, is God onlosmaaklik deel van alles, en kom jy agter dat selfs James Bond net steeds kan leef deur die genade van God. Hy kry nie eens VIGS nie. Simson was ‘n eenman-slaghuis, deur God. Elke held en sy sukses in elke fliek is wie hy is deur God. Ek dink intense nostalgie het my van kleins af gery om terug te wil gaan in tyd. Hierdie wêreld waarin ons leef het my altyd laat smag na ‘n ander, net buite ons s’n. Maar tydreis het my altyd fassineer. En as jy dink: Waar eindig die ruimte? Jou kop kan bars as jy begin wonder waar jy gaan eindig as jy vir ‘n miljoen jaar ‘n miljoen ligjaar voortbeweeg elke sekonde daarvan. En wanneer het God tot stand gekom? Wat was daar voor Hom? Ek onthou hoe dit my aangegryp het om iets op die horison in ‘n lugspieëling te sien verdwyn. En dan was daar die ding van die hemel… Waar is dit? In ‘n ander heelal! En daar gaan nie net een ander heelal wees nie. Geeste. Waar woon hulle, waar kom hulle vandaan? WF is nie vir my iets apart nie, dis alledaags, as jy die volle spektrum van die lewe in ag neem en nie kampies bou nie. Vir iemand om God of sy betrokkenheid te ignoreer, is soos om die betrokkenheid van die internet van vandag te ignoreer. Jy kannie sonder Hom skryf nie. Letterlik en figuurlik. WF as ‘n genre is maar net die deur wat ek die oopste gesien het om mee te identifiseer, en te vat.

AF: Watter proses het jy gevolg om jou boek gepubliseer te kry?
GvD: Jy gaan na ‘n boekwinkel en skryf elke moontlike uitgewer se naam neer. Nou rig ‘n brief aan elkeen. As hulle die moeite doen, kom hulle terug en sê needankie. Maar jy doen dit vir jouself, nie vir hulle nie, so jy gaan aan. Jy wil iets klaarmaak in jou lewe, vir eens. So jy vurk maar die duisende uit wat ander mense spandeer op reise en dronkword en partytjies, en jy gooi alles daarin om jou werk te kan vashou soos iets wat onmiskenbaar van ‘n winkelrak afkom. My vrou kom toe af om Xlibris wat toe waaragtig na haar toe terugkom, en baie belangstel om te help. Die skilderye het ek self gedoen, en alles laat rangskik by ‘n grafiese ontwerper, en die omslag met die PDF van die verhaal na hulle gestuur. Die res is geskiedenis.

AF: Hoe het jou Christelike geloof ‘n invloed op jou skryfwerk?
GvD: As jy ‘n probleem het met vloek, soos ek, sukkel jy om jouself in ‘n Christelike konteks uit te druk sonder om impak te verloor. Ek sensor natuurlik my karakters se dialoog, weens my Christelike teikenmark, maar ek gaan my nie laat vertel dat net mooi taal gebruik is in Bybelse veldslae nie. Mense het immers meer ‘n probleem met swak taal, as God. My karakters is gewone mense, net soos ons. Gewoonlik is dit hoekom mense nie met God wil skakel nie, want hulle dink hulle moet eers “regkom” voordat hulle tot God kan nader. Deur my karakters te laat vloek onder stres, wys ek dat God nie van hulle af vlug nie, maar steeds daar is, mét hulle. So voer God sy plan met Adanaii deur, regdeur tot die einde. En oortref hom selfs met goedheid, bo sy verwagtinge!

AF: Watter raad het jy vir ander aspirant-Afrikaanse WF/F skrywers?
GvD: De hel met wat die mark wil hê en wat reg of verkeerd is. As jy op tone trap, draai jou hak ook nog so ‘n bietjie heen en weer! Skryf vir jouself, om trots te kan wees in wat jyself vermag het. As jou boek verkoop, is dit maar ‘n pluspuntjie. As jy skryf om te verkoop en om uitgewers se aandag te trek, het jy niks vermag nie. Dan is jy net ‘n marionet. Jy het niks geskryf nie, en jy het net bloot “gesig gekoop”. Goed, jy het ‘n bietjie geld gemaak, mense weet van jou, maar dis nie JY nie.

AF: Watter proses het jy onderneem om jou boek ‘n e-boek te maak?
GvD: Oor die onkostes om ‘n boek te druk, is ONDULAN eers uitgegee op ‘n CD as ‘n PDF, met foto’s by, asook weggelate tonele. ‘n Plaaslike koerant, asook die Burger, in 2006, het ‘n artikel daaroor gedoen en ek het oproepe ontvang van mense wat dit in boekvorm eerder wil hê. Dit het my laat aangaan met ONDULAN, anders het ek net daar gestop. Xlibris stel ONDULAN self vry as beide hardekopie of e-boek.

AF: Wat is die mees uitdagende aspekte van WF/F vir jou om te skryf?
GvD: Afrikaans, is een. Want jy weier om die knie te buig voor die Empire, maar daarom weet jy jy gaan basies nie verkope hê nie en gaan onbekend bly.God, is die ander, want jou boek word nou in ‘n genre geklassifiseer wat ‘n nis, binne ‘n nis, binne ‘n nis is: Afrikaanse Christelike WF! So daar is nie vir jou ‘n mark nie. En oor God kan jy nie lieg nie, so daar is ‘n fyn lyn tussen die waarheid van God, en die fiksie van WF!

AF: Is jy ‘n aanhanger van WF/F kortverhale? Hoekom of hoekom nie?
GvD: Wel, ek lees nie. Ek het al kortverhale gelees op skool, maar ek vind dit steurend om sulke kort tydjies te spandeer in ander wêrelde. Ek vind dit uiters steurend.

AF: Wat is die langste tyd wat jy al ooit aan ‘n boek van jou gewerk het?
GvD: Hierdie een: ONDULAN, ‘n totaal van 23 jaar. Die opvolg se boustene het al begin vorm in die laaste jare van ONDULAN se afsluiting, en ek is reeds klaar met die rofskrif, wat onder 10 jaar is!

AF: Het jy enige ander WF/F boeke geskryf waarvan ons nie bewus is nie?
GvD: Ek het ‘n kortverhaal in my diensplig oor ‘n naweek geskryf, op ‘n droom gebasseer. Geen storielyn, geen verbeelding. Dit was net lekker. Dis weggegooi want ek was skaam daaroor.En dan was daar my tegnologiese Weskusdiere waaraan ek 6 jaar geskryf het, einde laerskool, vir ontspanning. Geen storielyn, net gebeurtenisse. Dit het ‘n stil dood gesterf toe ek met ONDULAN begin het. Dit was bloot vir ontvlugting.

AF: Watter navorsing het jy onderneem om jou karakters en wêrelde te skep?
GvD: Daar is stukkies wat jy oral optel. Iets wat jy hoor by iemand anders van ‘n boek wat hy gelees het…My karakters se name is omdat ek nie altyd mooi hoor nie. ‘n Gewone woord, en jy hou van die klank daarvan, en jy maak ‘n naam daarvan. Ek het op ‘n stadium so baie name gehad, name wat ek wou gebruik, dat ek dit ‘n karaktertrek gemaak het dat almal se name uit 3 woorde moet bestaan. En soos ek in ONDULAN noem, is die wêreld van die 1000jaar vrede, die bietjies wat oor is van al die volke. Die gebeurtenis van die Toring van Babel draai weer om: Een taal is tot gevolg, want tale skei bevolkingsgroepe, en met een taal is daar Vrede. Vandag se wêreldtale is as gevolg van onderdrukking, so dit sal nie Engels, Spaans of Frans wees nie.Dan kyk ek na die tektoniese plate in die Aardkors, waar eilande vorm en kan vorm. Met massiewe uitbarstings sal daar lande vorm, waar ander weer sal wegsink. Ongelukkig het ek nog nie ‘n volledige wêreldkaart van 2172 opgetrek nie. Die tegnologie, is natuurlik, glo ek, tegnologie wat vandag al bestaan, maar toegesmeer word deur wêreldmagte om die wêreldmarkte te beskerm, bv. Teenswaartekrag. Ek glo vlieënde pierings is ons tegnologie, maar word ook ingespan sodat mense nie moet glo in God of die Bybel nie.Dan hou ek daarvan om te lees oor goed wat toegesmeer word, soos die werk van Nicola Tesla. Tegnologies moet ons baie verder wees as wat ons is. Die magte wat Tesla se werk gekelder het, was nie van ons wêreld nie. ‘n Basiese konsep oor wat maak of breek ‘n planeet, wat lewe gaan bepaal, help ook- Afstand van hul son, rotasiespoed, swaartekrag, wat bepaal die klimaat… al hierdie dingetjies. So is tropiese lewe op ‘n Toendraplaneet soos Cytheria moontlik. Lewe op Pendar is baie moeiliker, maar my kennis daaroor is te min, daarom brei ek nie daaroor uit nie.

AF: As jy een van jou boek se karakters kon wees, wie sou dit wees en hoekom?
GvD: Ek dink Adanaii self, vir die tyd waarin hy lewe, en Despatch, vir sy lewensbenadering.

AF: As jy die keuse gegee word, verkies jy om die boek te lees of om die film te kyk?
GvD: Die fliek! Sonder twyfel! Want die fliek is wat ek geskryf het. Daarom is die ding so dik!

AF: Watter uitdagings, dink jy het Christen skrywers in vandag se uitgewer-wêreld?
GvD: Met die term ‘Christen’ word jy dadelik gekategoriseer. En jy kry ‘n gratis teiken op jou rug. Met ONDULAN se benadering kon ek aanvanklik nie besluit tussen Christelik of sekulêr nie. Volgens die aard van ONDULAN, is ek té Christelik vir die sekulêre wêreld, en té sekulêr vir die Christelike wêreld. So, ONDULAN is, dalk, ‘n Christelike verhaal uit ‘n sekulêre oogpunt.

AF: Wat dink jy van Afrikaans se reputasie en teenwoordigheid in die WF/F industrie?
GvD: Soos ek verstaan, is dit dood. Ongelukkig, in die breë spektrum van Afrikaans, om erkenning te kry, daal Afrikaanse skrywers net so laag as die res van die wêreld. Vir aansien, kan hulle nie skryf sonder om bar en vulgêr te wees nie. En dan smaal jy uit ‘n driekwart aansig vir die kamera, en suig digterlik aan jou pyp, met die onderskrif- “Kyk dié ou noem ‘n graaf ‘n graaf…”

AF: Wat was jou eerste wetenskapfiksie / fantasie verhaal wat jy ooit gepubliseer het?
GvD: Hierdie (ONDULAN) is die eerste.

AF: Hoe gewild is Christelike wetenskapfiksie en fantasie onder Afrikaanse skrywers?
GvD: Sien, ek lees nie, so ek kan nie eintlik my mening hier lig nie. Dit lyk of daar redelike belangsteling is, maar oor uitgewers bang is vir ‘n mislukking, steun hulle dit nie. Ook dink ek Afrikaanse skrywers, en ook ander nie-Engelssprekende skrywers, waag dit nie omdat oor die algemeen aanvaar word die toekoms is Engels. Maar kyk na die Russe: Wie ookal saam met hulle wil lanseer, moet eers Russies leer, as ek reg is. So mense skryf nie WF in hulle eie taal nie want hulle sien hulleself nie in die toekoms nie, maar dat alles Engels is, en daarom WF in Engels doen. Spock noem dit in Star Trek IV “Arrogant Presumption”. (Om te dink alles gaan Engels wees en bly).
AF: Het jy al enige kortverhale geskryf? Indien wel, het jy al ooit probeer om hulle te publiseer?
GvD: Nee, ek is is net te besig met my gewone skryfwerk, en dan probeer ek nog skilder ook.

AF: Is daar ‘n opvolg in die nabye toekoms op Ondulan, of is jy besig met ‘n nuwe boek?
GvD: Ja, ek is reeds besig met ONDULAN se opvolg. Dalk is dit oor 2 jaar gereed.

AF: Verkies jy ‘n gelukkige einde of ‘n onverwagse draai aan die einde van ‘n WF/F verhaal?
GvD: Die gelukkige einde is my eerste keuse, maar ‘n onverwagse draai sit soveel meer vleis aan jou werk. Met ONDULAN se opvolg los ek die leser heeltemaal in die lug, tot hulle die derde een optel. En ek het geen idee nie! Ek gooi myself daarin, om myself vas te woel, en om dan my pad oop te skryf daaruit!

AF: Openbare biblioteek of ‘n boek versamelaar (koop jy boeke of neem jy eerder boeke uit)?
GvD: Ek het wel ‘n sagte plek vir ou boeke uit Suid-Afrika: Tussen die post-Tweede Wêreldoorlog tydperk tot omtrent die 1980’s, want dit maak my nostalgies oor ‘n land wat voorheen bestaan het, genaamd Suid-Afrika, toe daar nog ‘n volksidentiteit was en ‘n nasietrots.

AF: Wat sou jy sê was jou motivering om ‘n WF/F skrywer te word? Wie of wat het jou geïnspireer?
GvD: Ek kon nie kry wat ek gesoek het nie: ‘n Plaaslike held, en nie altyd ‘n ou met ‘n Amerikaanse vlag op die skouer nie. Fritz Deelman was die naaste, en Jan Rabie se karakters. En dan ook moes die karakters intellektueel modern wees, en nie klink soos veeboere wat nie mooi weet wat in die ruimte aangaan nie. Ek verpes WF-karakters wat praat soos Afrikaanse Voorgeskreweboeke , maar ook nie klink soos Rugbyspelers of sg. Afrikaanse musieksterre, wat net 30% Afrikaans kan praat nie.

AF: Wie het jou geïnspireer om ‘n WF/F skrywer te word en het daardie individu oor die jare verander?
GvD: Ek dink Jan Rabie, maar ek dink hy het klaargemaak met Swart Ster-.

AF: Is jy die soort skrywer wat presies weet wat jy in elke hoofstuk gaan skryf of laat jy die storie jou lei?
GvD: Die storie lei my. Soms kom daar dinge in wat nie eens iets met die storie te doen het nie. Soms, baiemaal, sit ek tonele in wat goed lyk op silwerdoek, maar niks regtig uit te waai het met die storielyn nie. Dis my groot swakheid.

AF: As jy net een boek kon kies om na ‘n verlate eiland of planeet te neem, wat sou dit wees en hoekom? GvD: Buiten die Bybel: Timestorms deur Jenny Randles, maar ek het dit al voos gelees. So dit skeel my nie meer nie, maar dis my hoof bron van my opvolg.

AF: Dink jy ons sal meer Afrikaanse WF/F skrywers in die nabye toekoms sien? Waarom of waarom nie?
GvD: Net as ons ons eie ding doen, en nie gedurig moet kniel om die uitgewers se ‘Pouslike ring’ te moet soen om gereken te kan word nie. As dit nie vir uitgewers was nie, sou Afrikaanse letterkunde baie ryker gewees het.

AF: As jy die keuse gegee word, sou jy jou boeke vertaal wou sien of sien dat hulle dit verfilm en hoekom?
GvD: Beide, maar ek sal dit eers in ander tale wil hê as Engels. Engels is soos ‘n Hollywood-bekende wat altyd aanvaar en aanneem hy is eerste, en gaan altyd genooi word. En film, omdat ‘n klankbaan baie belangrik is vir die stemming, en met die vertelling van die storie. Die klankbaan DRA die fliek. ONDULAN is geskryf soos ek die klankbaan gehoor het.

AF: Wat in jou opvoeding/agtergrond sou jy sê het jou voorberei om Ondulan te skryf, en hoe het jy dit benader?
GvD: My bekering in Desember 1989. Daarsonder sou ONDULAN nooit gewees het nie. Maar toe was ek reeds besig met ONDULAN en was dit ‘n gewone WF wat meer soos Robotech gevoel het, en sonder God. Eers in 1995 het ek besluit om ONDULAN voluit Christelik te skryf.

AF: Watter proses volg jy om jou karakters te ontwikkel en hoe hou jy boek van hulle vordering deur die verloop van jou storie?
GvD: Soms maak jy notas. Op ‘n stadium was my kamer uitgeplak met notas soos muurpapier. Mens probeer maar eerder alles onthou.

AF: Kies jy ‘n WF/F boek deur na die omslag te kyk of oordeel jy die boek deur na die beskrywing agterop te lees? Hoekom of hoekom nie?
GvD: Ek gaan baiemaal boekwinkels toe net om die omslae te bewonder. Ek lees net agterop as die omslag my trek.

AF: Vanuit jou perspektief, waarom dink jy dat Christelike WF/F nie goed verteenwoordig word in die Christelike gemeenskap nie?
GvD: Mense dink WF gaan net oor vreemde wesens, daarom pak hulle dit nooit aan nie. Rebecca Brown het wel die ding vir my oopgekrap deur oor demone en engele te skryf. So daar is die afspringplek reeds. Ek dink God het my gewys om oor die 1000jarige vrede te skryf, maar ek moes my eie opinie vorm binne die raamwerk, want daar word nie veel daaroor geskryf nie, behalwe “hulle prys God” die hele tyd.