Afrifiksie 2018

Welkom aan elkeen wat in 2018 wil deelneem aan die Afrifiksie kompetisie om skeppend te wees in die wêreld van die verbeelding.

Die kompetisie om in 2018 mee te ding in die skep van Afrikaanse fantastika sal hoofsaaklik in twee afdelings plaasvind – geskrewe werk en beeldende werk. Hierdie idee is ‘n voortsetting van die 2017 kompetisie wat goed ontvang en ondersteun was.

Inskrywings kan onmiddelik begin en die sluitingsdatum is 31 Augustus 2018.

Alle voorspoed aan elke deelnemer – ons kan nie wag om te sien met wat jy ons hierdie jaar gaan vermaak nie…

Geskrewe inskrywings

Slegs twee tipes geskrewe inskrywings sal aanvaar word, naamlik kortverhale of gedigte. Inskrywings kan in een van twee kategorieë ingedien word, WF of F soos hieronder uiteengesit.

WF F
Wetenskapfiksie Fantasie
Utopia / distopia Gruwels & spookstories
Apokalipsie / post-apokalipsie Sprokies & fabels
Alternatiewe geskiedenis Mitologie & legende
Superhelde  

As ‘n algemene riglyn en wenk, hou asseblief die volgende in gedagte. Daar is baie skryfkompetisies, maar hierdie een is spesifiek gemik op die kategorieë soos hierbo aangedui. Dit is nie aanvaarbaar dat die wetenskapfiksie of fantasie tema bloot die agtergrond van die verhaal vul nie – die storie self moet handel oor wetenskapfiksie of fantasie wat integraal moet wees in die storie. Dit is byvoorbeeld nie aanvaarbaar dat ‘n liefdesverhaal bloot op ‘n ruimteskip afspeel indien die storie nie self van ‘n wetenskapfiksie aard is nie. Dit geld ook vir die kuns (of beeldende) afdeling.

Kortverhaalinskrywings sal aanvaar word as kortverhale vir volwasse of vir jonger lesers. Om van die onduidelikheid van ons vorige kompetisie uit te skakel, sal inskrywings slegs aanvaar word met ‘n totale woordinhoud van tussen 2 000 en 7 500 woorde.

Wenk: Daar is verskeie artikels op die Afrifiksie webwerf wat nuttige inligting bevat oor skeppende stelwerk in hierdie velde wat hier van toepassing is.

Om dit moontlik te maak vir ons om alles behoorlik te beoordeel, word inskrywings beperk tot twee inskrywings per kategorie per deelnemer. Met ander woorde, dit sou moontlik wees vir ‘n persoon om 2 inskrywings vir kortverhale in WF, 2 vir F en 2 gedigte in te skryf – 6 geskrewe inskrywings per persoon.

Daar word weereens ‘n spesiale prys toegeken vir die beste inskrywing deur ‘n skolier – ongeag die kategorie.

Wenners in die geskrewe afdeling sal as volg aangewys word.

  • Beste kortverhaal: Wetenskapfiksie (R1 000)
  • Beste kortverhaal: Fantasie (R1 000)
  • Beste gedig (Wetenskapfiksie of Fantasie) (R500)
  • Beste skolier-inskrywing (Wetenskapfiksie of Fantasie) (R500)

Maak asb. seker dat daar aan die Bepalings en Voorwaardes gehoor gegee word.

Nie-geskrewe inskrywings

Om deelname in hierdie deel van die kompetisie aan te moedig, word daar doelbewustelik nie te veel beperkings daarop geplaas nie, en kan enige van die volgende insluit.

  1. Tekenwerk of verfwerk (2D) [maks 4 p/p]
  2. Beeldhouwerke of modelle (3D)
  3. Fotografiese werk
  4. Grafiese skeppings (tipies met ‘n rekenaar gemanipuleer) [maks 4 p/p]
  5. Kort video’s (toneel met akteurs of geannimeerd) of dokumentêre
  6. Oorklanking van kort video’s
  7. Rekenaar- of selfoonspeletjies of toepassings
  8. Strokiesprente of fotoverhale
  9. Klankopnames (opgevoerde verhale of spesiale effekte)
  10. Grimeerkuns en kostuums

Daar is geen beperking op die aantal inskrywings in hierdie afdeling nie, tensy dit spesifiek aangedui word – slegs in kategorieë 1 en 4.

Wenners sal per kategorie aangewys word, maar prysgeld van R500 per elk van die 10 kategorieë sal alleenlik toegeken word indien die wen-inskrywing van voldoende gehalte en standaard is.

Voorwaardes en Bepalings (Reëls)

  1. Slegs werke wat deur Afrifiksie ontvang is voor die sluitingsdatum, sal oorweeg word. Alle koste om die inskrywing aan Afrifiksie in te dien is vir die deelnemer se rekening.
  2. Die uitslag van die kompetisie is finaal en deelnemers onderneem om dit te aanvaar.
  3. ‘n Deelnemer dra die regte op werke wat ingeskryf word vir die kompetisie oor aan Afrifiksie wat daarmee kan handel na goeddunke sonder enige eis of beperking. Afrifiksie sal te alle tye erkenning gee aan die skepper van die werk wat ingeskryf word. Geen inskrywing sal terugbesorg word nie – ongeag of die werk gewen het of nie.
  4. Die werk moet oorspronklik wees en ‘n kopie van die werk van ‘n ander sal tot diskwalifisering lei. Toekennings sal selfs in die toekoms teruggetrek word indien dit sou blyk dat hierdie reël geskend was.
  5. Teks wat gebruik word in die kuns, en titels daarvan sal slegs in Afrikaans aanvaar word. Alle kommunikasie oor hierdie kompetisie sal slegs in Afrikaans onderneem word.
  6. Deelnemers aanvaar dat hul name en foto’s deur Afrifiksie openbaar gemaak kan word in die media. Persoonlike besonderhede sal nie bekend gemaak word nie, tensy dit deur die reg vereis word, of indien die kunstenaar daartoe instem.
  7. Afrifiksie kan te enige tyd die reëls en voorwaardes aanpas deur dit op die webwerf openbaar te maak. Die onus rus op voornemende deelnemers om hul deurentyd op hoogte te hou van veranderinge wat aangebring mag word.
  8. Afrifiksie behou die reg voor om te eniger tyd uit hierdie kompetisie te onttrek, om welke rede ook al en word ook in hierdie verband gevrywaar teen enige aanspreeklikheid teenoor derdes.
  9. Strokiesprente en fotoverhale moet ‘n volledige storie vertel en moet uit ‘n minimum van 25 raampies bestaan.
  10. Grimeerkuns en kostuums sal beoordeel word op ‘n reeks van ten minste 6 foto’s uit verskillende hoeke. Meer foto’s kan verlang word indien Afrifiksie dit nodig ag.
  11. Opgevoerde klank- en video-inskrywings moet ten minste 3 minute lank wees en moet ‘n volledige storie vertel of boodskap oordra.
  12. Oorklankings mag alleenlik ingeskryf word met die toestemming van die eienaar. Lees asb. Oorklankiaans  vir agtergrondkennis hieroor.
  13. Videospeletjies vir rekenaars of selfone moet onderskeidelik op Windows of Android kan speel – afhangend van die geval.
  14. Vir enige navrae of verdere duidelikheid, rig ‘n skrywe aan afrifiksie@outlook.com.

Op julle merke…. gereed….. gaan!